Moord op Springbok – deur Jason Mada
Julian buk oor die lyk. Daar is geen uitwendige beserings nie, maar hy kan nie verstaan hoekom die man se lyk so grys is nie. Oral. Selfs die binnekante van sy wydgesperde oë is grys.
“Julle kan maar vat, ek is klaar,” sê hy vir die mans wat met die lykswa gearriveer het.
Andrea staan versteen teen die deurkosyn. Haar pa het gister nog niks makeer nie. Om só op hom af te kom na ‘n nag se rinkink…
Julian stap na haar toe. “Ek is jammer, Andrea.”
Sy knik net haar kop.
“Kan ek jou ‘n paar vrae vra? Of moet dit wag totdat…”
“Nee. Kry dit net verby,” sê sy stil.
“Was hier enigiemand gister, behalwe julle twee natuurlik, in die huis?”
“Ek was tot so nege uur gisteraand tuis. Ek het uitgegaan en eers vanoggend terug gekeer. Te aangeklam om terug te ry,” sê sy blosend. “En toe kry ek hom…”
“Was hy sieklik die laast tyd? Op enige spesiale medikasie?”
“Nee, en nee. My pa was so gesond soos kan kom. Hy het nog elke oggend gaan draf, twee keer ‘n week tennis gespeel, selfs die Argus fiets-toer gedoen. Wat dink jy kon sy dood veroorsaak het?”
“Ek het geen idee nie. Die lykskouing sal ons daarmee moet help. Hier is my kaartjie. Bel as jy aan iets kan dink wat dalk van belang kan wees.” Julian maak sy boekie toe, kyk nog vir oulaas na waar Dominees Steyn gelê het, en verlaat die huis.
Die hele dorpie was aan die gons. Almal het saam gegis, behalwe Annaretha Viljoen. Sodra iemand oor die moord gepraat het, het sy haarself uit die voete gemaak, en meer as een persoon het dit opgemerk.
“Is sy nie die een wat jare gelede…?”
“Ja, maar moenie dat iemand jou hoor praat daaroor nie. Ek hoor sy het Petrus gedagvaar vir naamskending en ‘n moewiese bedrag geld gekry oor dit.” Dan het wie ookal hulle lippe gesluit met die vrees dat hulle ook hof toe gesleep sou word. Annaretha wéét dinge van mense. Hóé, weet niemand nie, maar sy weet…
Thembi, die Steyns se huishulp, het dieselfde dag nog die plek van voor tot agter skoon gemaak nadat die polisie klaar was met die ondersoek. Elke liewe hoekie. “Die ancestors gaan nie happy wees as ek dit nié doen nie,” het sy vir Andrea gesê.
Dit was net na sewe die aand toe iemand aan die voordeur klop.
Andrea maak die deur oop.
Voor haar staan ‘n ou man; sy hare wat sy bles moet toe maak hang windverwaaid op sy een skouer. “Kan ek inkom?” fluister hy.
Hy ruik na Old Spice. Sy ken die reuk want haar oupa het dit altyd gebruik. “Wie is jy?” vra Andrea. Sy het hierdie man nog nooit in haar lewe gesien nie.
“Flip. Flip Steyn. Kan ek nou inkom?”
“Is jy familie van ons?” Andrea staan opsy en laat die klein mannetjie in.
“Sit,” sê hy vir haar. “Ons moet praat.”
Andrea kruis haar hande oor haar bors. “Sê wat jy wil sê en loop. Ek het min geslaap gisteraand en is nie lus vir speletjies nie.”
Hy sug. “Nogsteeds so koppig soos toe jy klein was. Nou maar goed, nes jy wil.” Hy haal ‘n vergeelde koerant knipsel uit sy bruin baadjiesak. “Hier.”
Dit is ‘n ou koerantberig met ‘n foto van haar pa. Die opskrif lui: ‘Andries Steyn oorlede aan argirose’. Die koerant dateer uit 1896!
Sy kyk geskok op na die ou man. “Ek verstaan nie. My pa is eers gister oorlede. Op die ouderdom van vier-en-sewentig. Is die ‘n siek grap?”
“Ek loop nou,” sê die man.
Andrea gryp sy arm. “O nee, nie voordat jy verduidelik wat de duiwel aan die gang is nie!”
“Nou maar goed, maar ek sal die res van die papierwerk in my kar moet gaan haal sodat jy alles kan verstaan. Kan ek ‘n koppie tee kry, asseblief?”
Andrea staan opsy dat hy kan verbykom.
Vyf minute later staan sy steeds op dieselfde plek, en van die man is daar geen teken nie. Hy kon nie gery het nie, want sy het geen enjin gehoor nie. Sy storm by die voordeur uit. Die hek is steeds toe, en van ‘n kar is daar geen teken nie. Al bewys wat sy het dat die man wel hier was, is die ou koerant-uitknipsel.
Sy gryp haar selfoon en Google argirose. ‘n Siekte wat opgedoen word aan hoë blootstelling van chemikaliëe van die element silwer. Fotograwe wat self foto’s ontwikkel doen dikwels hierdie siekte op.
Andrea kan dit nie verstaan nie. Haar pa het nog nooit in sy lewe foto’s ontwikkel nie. Sommige oogdruppels en medikasie bevat ook hoë dosisse silwer. Sy storm kamer toe en Google elke liewe pil wat haar pa gedrink het. Geeneen bevat kolloidale silwer in enige hoeveelheid nie… Sy lees verder.
Hoe om te toets of iets kolloidale silwer bevat: Voeg gewone tafelsout by enige vloeistof. As dit melkerig word, dan bevat dit wel kolloidale silwer. Hoe witter die vloeistof, hoe meer silwer in die inhoud.
Andrea storm kombuis toe en haal die houer met sout uit die kas. Dan gryp sy ‘n plastiese emmer en loop na haar pa se slaapkamer. Sy pak al die botteltjies met vloeistof in die emmer. Dan gaan sy na die badkamer, en kollekteer ook alles daar.
In die kombuis pak sy all die botteltjies in ‘n ry op die tafel. Sy toets elke liewe bottel. Niks! Al wat oor is, is die mondspoelmiddel wat haar pa by een of ander tydskrif in ‘n kompetisie as geskenkpak gewen het. Dit het per koerier gekom. Daar was allerhande dinge in die geskenkpak. Tandepasta, skeer-seep, naskeermiddel, en twee bottels mondspoelmiddel.
Sy draai die prop af en gooi sout by die bottel se bek in. Andrea knip haar oë om seker te maak dat sy haar nie misgis nie. Die bottel was so wit soos suiwer koeimelk. “Hoe is dit moontlik?” prewel sy geskok. “Pa het vir my ook so ‘n bottel mondspoelmoddel gegee, maar ek het dit nog nie gebruik nie.” Sy drafstap na haar badkamer, gryp die bottel, en loop weer vinnig kombuis toe. Sy draai dit oop met bewerige hande en gooi sout in. Spierwit!
Dan onthou sy van Julian Steenberg. Sy grou in haar handsak en kry uiteindelik die kaartjie. “Hi! Dis Andrea. Kan jy dalk oorkom? Ek moet vir jou iets wys.”
Julian kyk na Andrea asof sy stories opmaak toe hy langs haar in die kombuis sit.
“By watter tydskrif het julle die gewen?”
“Ek het geen idee nie. My pa het altyd blokkiesraaisels gepos, en hy het nogal gereeld pryse gewen.”
Hy kan ook nie die koerantuitknipsels verstaan nie, maar die ding bestaan wel. Hulle kon nie sê uit watter koerant dit kom nie, maar die deel van die datum wat hulle wel kan sien maak nie sin nie. ‘aart 1896. “
“Dit kan net Maart wees. Geen ander maand eindig so nie,” sê Julian. “Kan ek die koerantberig leen. Ek wil kyk of ek iets kan wys word uit die argiewe by hoofkantoor. Ek wil ook die mondspoelmiddel toets vir vingerafdrukke, asseblief.”
“Help jouself.” Andrea krap in die medisyne-kas vir hoofpyn pille. Hierdie nuwe verwikkeling is net te veel vir haar.
Julian kom later die middag terug. “Ek wil vir jou ‘n klomp mense wys. Dit kom uit koerante van Maart 1896. Kyk of enigiemand in hulle bekend lyk.” Hy oorhandig ‘n stapel drukstukke.
Andrea bekyk elke bladsy oor en oor, en word dan yskoud. “Dit is hy! Die man wat vir my die uitknipsel gebring het!” Sy druk met haar vinger op ‘n gesig.
‘Tenniskampioene Maart 1896,’ lui die opskrif.
“Almal se name is ondergaan die foto. Kom ons kyk…” Julian verbind die name met die gesigte. “Flip Steyn.”
Andrea swets. “Dis wat hy gesê het!”
“Ek gaan kyk of ek meer oor die ou kan opspoor. Ek bel jou later,” sê Julian en vertrek.
Andrea was besig om pasta te maak toe iemand aan die deur klop. Haar hart klop in haar keel en sy pluk die deur vinnig oop.
“O. Dis jy,” sê sy droogweg. “Kom in.”
Annaretha Viljoen lig net haar wenkbroue maar sê niks. Sy volg Andrea kombuis toe. “Wat sê Julian van Flip?”
Andrea laat val die lepel waarmee sy die pasta roer. “Hoe weet jy van Flip?” Sy draai die stoofplaat op een.
“Jy weet mos, ek weet alles,” spot Annaretha. “Dis wat die dorpsmense sê…”
“Ek maak nie grappies nie. My pa is onlangs dood.” Sy gaan sit by die tafel. “Droom ek al hierdie goed? Is Springbok getoor? Mens wat oor ‘n honderd jaar oud is bring vir my koerant-berigte…”
“Soms gebeur dinge wat mens nie verstaan nie,” trek Annaretha haar skouers op. “Dis hoekom ek hier is. Ek … sien dooie mense, en kan met hulle kommunikeer.”
“Soos wie?”
Annaretha volg ‘n patroon op die tafeldoek met haar nael. “Jou pa.”
Andrea se kop ruk op.
“Dis hy wat vir Flip gestuur het. Hy wou self kom maar was bang dat jy jou letterlik dood sou skrik. En dan was die huis heeltemal leeg.” Annaretha lag. “Ek kan sien dat jy my nie glo nie. Ek sal dit bewys. Jou pa sê die mondspoelmiddel is wat sy dood veroorsaak het. En dat dit nie van ‘n tydskrif af gekom het nie. Bianca Steyn, sy niggie, het dit gepos. Sy het gehoop dat julle albei teen nou sou dood wees. Dan erf sy alles.”
“Ek weet nie eers wie Bianca Steyn is nie,” sê Andrea. “Nog nooit van haar gehoor nie.”
“Dit gaan oor een of ander ou klousule in jou oupagrootjie se testament. Iets van as een familie heeltemal sou uitsterf, dan erf ‘n volgende persoon alles, en as daardie persoon sterf, dan erf dié een alles. So iets. As jy verstaan wat ek bedoel. Nou ja, Bianca is daardie een as jy en jou pa tot sterwe sou kom.” Annaretha staan op. “Flip is lankal oorlede. Hierdie is sy grafnommer as jy dalk self wil gaan kyk. Nee, moenie saamstap nie. Ek dink jy moet vir jouself ‘n koppie soet tee maak. Tot siens.”
Bogger die tee, dink Andrea en gryp haar karsleutels. Sy ry begraafplaas toe en soek na graf nommer 1096. Wragtig! Filip Hendrik Steyn.
“Ek sal Julian moet bel,” dink sy en gaan sit op ‘n graf langs Flip s’n. Snaaks hoe rustig begraafplase is, dink sy. En hoe mooi sommige grafstene is. Soos die een waarop ek nou sit…” Sy draai haar nek om te sien aan wie die graf behoort en spring vervaard op. Annaretha Viljoen!
Sy bel vir Julian met bewende vingers. “K-kom dadelik begraafplaas toe.” Sy druk die foon dood.
Julian has hom na Andrea. “Wat gaan aan?”
Sy kan nie praat nie. Beduie net na die twee grafte.
“Wat de donner…?” Hy kyk na Andrea. “Los jou kar hier en kom saam met my.”
Hy bel sy een kollega. “Kry vir my die adres van Annaretha Viljoen. Ja, die een wat Petrus voorverlede jaar kaal uitgetrek het.” Julian skryf die adres neer en ry daarheen. Hy en Andrea sit net en staar na die apteek. Iewers is iets nie reg nie. “Kom, ons gaan vind uit of hierdie die regte adres is.”
‘n Jong meisie in die apteek sien hulle en glimlag vriendelik. “Kan ek help?” sê sy.
“Ja, asseblief, juffrou…?”
“Bianca. Bianca Steyn. En waarmee help ek vandag?”