Die Proteas gaan Sondag die eindstryd om die krieket-wêreldbeker op TV moet kyk.
Hulle het gister in die halfeindstryd met drie paaltjies teen Australië in Kolkata verloor.
Dit is die vyfde keer in die geskiedenis dat hulle in die halfeindstryd vasval en kritici van die span sal in die versoeking wees om te sê hulle het hul reputasie as “chokers“ gestand gedoen.
Dit sou egter onregverdig wees, want die Suid-Afrikaners het manhaftig geveg nadat hulle veelgeroemde kolflys in duie gestort het en so byna-byna die knoop deurgehaak.
David Miller was die enigste kolwer wat hond-haaraf gemaak het teen ‘n briljante Aussie-boulaanval. As mens sy 101 lopies van die totaal van 212 aftrek, bly daar nie veel oor nie…
Die manne van Australië het egter gesukkel om die sagte teiken van 213 te haal, met slegs Travis Head (62) wat ‘n beduidende telling kon aanteken.
Die kolfblad was behoorlik vol duiwels, met veral die draaiers wat hulle aflewerings na willekeur van rigting kon laat verander.
Toe Rassie van der Dussen met die telling op 24/4 teruggestuur is pawiljoen toe, het mens visioene begin sien van ‘n Protea-kolflys wat nie 100 lopies kon haal nie, maar die middelorde het die skip mooi gestabiliseer.
In die ander halfeind het Indië Donderdag hard geveg om ‘n manhaftige Nieu-Seelandse in ‘n lopieryke stryd met 70 lopies uit die toernooi te boender.
Sondag takel die Aussies en Indië – twee van die reuse van wêreld-krieket – mekaar om die kroon. Dit gaan ‘n worstelstryd soos min wees, maar bitter min mense sal dit sommer waag om teen Indië te kies.
Indië is die enigste span wat onoorwonne in die toernooi is, en mens verwag dat goed ernstig sal moet skeefloop om te verseker dat hulle sonder die titel gaan sit wanneer die ander spanne huis toe gaan.
Die Indiese superstar Virat Kohli is die toernooi se grootste lopievraat met 711 lopies, gevolg deur die Protea Quinton de Kock (594) en die Kiwi Rachin Ravindra met 578 lopies. Al drie het tien keer gaan kolf.
Onder die boulers het Mohammed Shami van Indië die meeste paaltjies (23) platgetrek – een meer as Adam Zampa (Aus) en drie meer as Sri Lanka se Dilshan Madushanka.
Van statistiek gepraat – die Suid-Afrikaners gaan lank moet sit en kopkrap oor veral die prestasie van die kaptein, Temba Bavuma, se vertoning.
In sy agt kolfbeurte kon hy net 145 lopies bymekaarskraap teen ‘n gemiddeld van 18,12. Sy hoogste telling was 35 en sy treftempo ‘n sloerende 73,6.
Bavuma is ‘n uitstekende speler, maar dalk is hy nie uitgeknip vir witbalkrieket nie. Behoort hy hom op toetskrieket toe te spits? Dis dalk ‘n moontlikheid wat hy sterk moet oorweeg.