Isaac Cloete
Die ontydige fratsdood van ‘n jong seun was net te veel vir sy gemeenskappie.
Lee-Jay Maarman (13) was Dinsdagaand deur ‘n sterk elektriese stroom doodgeskok, het gemeenskapslede in Matjieskloof buitekant Springbok, hartseer vertel.
Die voorval het by ‘n privaatlykhuis gebeur, waar Maarman en maatjie gaan speel het. Blykbaar het hy toe hierna aan ‘n kragdraad buitekant ‘n kragboks van die lykshuis geraak.
Volgens Maarman se aanneem-ma, Anna Strauss, was hy ‘n dierbare seuntjie wat in sy vrye tyd by die betrokke begrafnisondernemers se lykshuis gewerk het. Hy het selfs vyfuur soggens opgestaan om die begrafnisondernemers te help.
“Dit was ‘n fratsongeluk en niemand kan hiervoor blameer word nie. Die eienaars van die lykshuis is gebreek en baie geskok oor die voorval.”
Blykbaar het die tweetjies oor die heining van die lykshuis gespring. Eers sy maatjie, wat niks oorgekom het nie, en toe die oorledene. Nadat laasgenoemde ook gespring het, het die tragedie gebeur. Hy het nog gelewe maar later in die hospitaal beswyk.
Volgens bronne het die Maarman en sy vriende feitlik daagliks by die lykshuis gaan speel, daarom is dit so ironies dat hy juis hier sy lewe moes verloor.
Maarman was in gr. 6 by die laerskool op Matjieskloof en sou Woensdag met die eindeksamen begin het.
Intussen het die plaaslike Nama Khoi munisipaliteit op Springbok die voorval betreur. Volgens hul woordvoerder, Jason Milford, was die oorsaak van die elektriese skok deur ‘n aardlekasie veroorsaak, soos vasgestel deur elektriese tegnici.
“Hiermee spreek ons ons opregte medelye uit en ons deel die gemeenskap se hartseer. Tans is ‘n volledige ondersoek aan die gang.”
Die SA polisie doen ook ‘n geregtelike doodsondersoek, daarom sal Maarman waarskynlik eers volgende week te ruste gelê kan word, sê Strauss.
Dis regtig ‘n tragiese tragedie, maar waarom oor die heining spring as hy elke dag daar gespeel het?