Sonnette Lombaard
Reuse-hoop het oornag helder geword vir miljoene mense in verskillende grade van donkertes weens geen of erge swak sig. Die wêreld se eerste oorplanting van ‘n hele oog was suksesvol en stoot die deur vir interoorplantings in die mensliggaam wyer oop.
In dié baanbreker-operasie in New York is ’n deel van die gesig en die hele linkeroog – insluitend die bloedtoevoer en optiese senuwee – van ’n skenker verwyder en toe suksesvol op die ontvanger oorgeplant.
Die prosedure word as ‘n mediese deurbraak beskou en bring groot hoop vir blindes en swaksiendes. Na raming leef 43 miljoen mense wêreldwyd met blindheid en nog 295 miljoen mense sukkel met matige tot ernstige gesiggestremdheid.
Die gelukkige ontvanger van die nuwe oog onlangs in die Groot Appel is ’n lynwerker van Arkansas, wat in Junie 2021 ’n elektriese skok van 7 200 volt oorleef het.
Aaron James (46) het uitgebreide beserings opgedoen, insluitend die verlies van sy linkeroog, sy linkerarm bo die elmboog, neus en lippe, voortande, linkerwangarea en ken.
Op 27 Mei is ‘n deel van die skenker se gesig by ‘n toonaangewende hospitaal vir gesigoorplantings in New York op James oorgeplant. Hy het laas week die skenker se linkeroog ontvang.
Die topspan chirurge in New York wat die oogoperasie uitgevoer het, het agterna toegegee dat dit onseker is of James wel ooit deur die geskenkte oog sal kan sien.
Nogtans is die oorplanting van ‘n hele oog lank reeds ‘n heilige graal in die mediese wetenskap. Navorsers het wel al ‘n mate van sukses in diere behaal met gedeeltelike herstel van visie.
Die grens is dus nou oorgesteek om dít ook in die mens te kan doen en James se herstel sal fyn gemonitor word. “Dis nog onbekende gebied, maar ons sien uit na die verkenning,” het dr. Eduardo Rodriguez, wat die operasie gelei het, aan die nuusagentskap AFP gesê.
Dit was Rodriguez se vyfde gesigsoorplanting – die 36 uur wat sy eerste operasie in 2012 geduur het, was nou tot 21 uur verkort.
Hy het bygevoeg dat gesigoorplantings nie meer ‘n eksperimentele prosedure is nie en oorweeg kan word as “standaard-sorg” in sekere gevalle van ernstige misvorming.
Volgens retinale oogarts Vaidehi Dedania lyk James se oorgeplante linkeroog baie gesond. “Dit het ‘n goeie bloedtoevoer, behou druk en genereer ‘n elektriese sein, hoewel hy nog nie kan sien nie. Maar ons het baie hoop.”
In die mediese en oftamologie-arenas is kenners opgewonde en dit eens dat dié oorplanting van ‘n menslike oog ‘n deurslaggewende oomblik is in die gemeenskaplike strewe om sig te herstel Dit bied hoop om ontelbare individue regoor die wêreld te kan help.
Kornea-oorplantings is lankal algemeen en faal selde siende die kornea die enigste deel in ‘n mensliggaam is wat geen bloedtoevoer het nie (dit kry suurstof direk deur die lug).
James, wie se regteroog ongeskonde is, is as ‘n ideale kandidaat beskou, Hy was verheug agterna. “Ek kan weer ruik, ek kan weer eet, kos proe. Vir die eerste keer in ‘n jaar en ‘n half kon ek my vrou soen,” het hy in onderhoude vertel. “Ek wil nou in die openbaar uitgaan en nie meer ‘n masker dra en my gesig moet toesmeer nie.”
“Ek wil hê dit moet uitkom by soveel mense moontlik, want selfs al bring dit nie die sig in my nuwe linkeroog terug nie, was dit ‘n begin, en kon dokters geleer het om volgende keer iets anders te doen.”
James se operasies open ook die deur vir inter-oorpantings wat die mediese wetenskap en eindelik die mens nóg ‘n hupstoot kan gee. Om senuwee-herstel in sy nuwe oog te bevorder, het die span beenmurg uit volwasse stamselle gebruik.
Die stamselrewolusie wat sedert die 1970s woed, maak baie van die deurlopende mediese deurbrake grensloos moontlik, insluitende voorheen ingewikkelde of onmoontlike oogoperasies. Mense kan nou stamselle oor grense en geslagte vir hulself of mekaar skenk. Stamseloorplantings is lank reeds die voorste linie van behandeling in bloedkankers, asook ander ernstige sieketstoestande, ook in Suid-Afrika.
Intussen het geneterapie sy buiging gemaak en gaan oor die laaste paar dekades met rasseskrede vooruit. Dit behels ook die inspan van elke mens se unieke DNS vir persoonlik-geteikende behandelings en medikasie.
Om die doelwit van sigherstel toenemend te bereik, sal die nuwe terapieë al meer ‘n rol speel. Met geneterapie kan die optiese senuwee se intrinsieke vermoë om te genees ontgin word; ‘n toestel, genaamd ‘n senuwee-omhulsel kan die weefsel beskerm; of toestelle wat seine opvang, kan die beskadigde deel of dele omseil.
Die groot vordering tans met die behandelings om optiese senuwee-herlewing te bevorder sal oogoorplanting verder stu. Hierdie bykomende terapieë stel die skenkeroog in staat om met die brein te koppel en só betekenisvolle visuele funksie van blinde pasiënte te herstel.
Boonop vorder nog ‘n nuwe, opkomende praktyk in die indrukwekkende oorplantingswetenskap. Dit maak die suksesvolle oorplanting van ‘n orgaan in meer as een ontvanger moontlik. Dit beteken dat ‘n oorplanting-ontvanger ook ‘n orgaanskenker kan wees.
In 2022 was daar juis ‘n rekord van bykans 45 000 orgaanoorplantings in die VSA aangeteken.
Teen die 21ste eeu vorder die mediese wetenskap teen die spoed van lig. Daarmee saam kom groot uitkomste en hoop, ook vir ooggestremdheid. Dit kan selfs sekere mense in ‘n splinternuwe sikspens omtower en die kernsensasie van sien aan blindes bied.