Skip to main content

Sonnette Lombaard

Die gebruik van die woord scoop in joernalistiek dui op eksklusiewe sukses met ‘n nuuswaardige en onthullende storie of artikel. Presies wat die beleërde Britse premier Rishi Sunak pas reggekry het.

Sunak, onder druk nadat sy regerende Konserwatiewe Party of Tories ‘n reeks ernstige flaters oor ‘n geruime tyd begaan het, het vriend en vyand verras met sy kabinetskommeling. Die nuwe Britse kabinet het nou nie een nie, maar twee lede wat al eerste minister was!

Sunak het oudpremier David Cameron ná sewe jaar uit die koue teruggebring na die warm politieke kryt. Hy het glo eers laas naweek amptelik die aanbod vir die kernpos van minister van buitelandse sake aan Cameron gemaak.

Volgens die Britse media het Cameron op 57 nog lank nie sy luste vir die politiek verloor nie. Hy het die Tories se nou reeds 13 jaar as regerende party in Brittanje triomfantelik ingelui in 2010. Die party word egter die laaste paar jaar deur ‘n spul skandale geskud. Dit het daartoe gelei dat Sunak se voorgangers, Theresa May, Boris Johnson en Liz Truss op ‘n streep blitsig moes bedank..

As eerste minister, het Cameron Downingstraat 10 van vir ses jaar tot 2016 bewoon. Hy het ‘n nuwe era vir dié konserwatiewe party ingelui, ook as vaandeldraer van ‘n meer moderne beeld vir die Tories wat eens onder Ystervrou Margaret Thatcher stigtelik gedy het.

Cameron is steeds betreklik jonk in die gewigtige politieke arena, al wemel dit deesdae van bloedjong leiers, ook in die sterker/groter lande. Vraagtekens hang juis nou weer oor die “ouer garde” tans, soos oupie Joe Biden van die VSA, wat op 20 November 81 jaar word en lank-in-die-tand koning Charles wat eindelik teen sy 75ste verjaarsdag gister, toe wel op die troon kon sit.

Cameron se aktiewe terugkeer tot die voorste politieke linie wys dat “oud” nog lank nie koud is nie op die vernaamste verhoë wat hedendaags die kollig annekseer. Ook wyer gesien, is dit van belang aangesien die millennium-landskap toenemend ‘n ouerwordende mensdom moet hanteer.

Boonop wys Cameron dat uittrede, selfs nadat jy die warmste stoel van ’n wêreldmoondheid moes ontuim, nog lank nie die einde van die pad beteken nie. Inteendeel, in ‘n kitsrak-samelewing wat fikseer op hoe jonger hoe beter, sal kennis en ervaring al hoe meer kragkommoditeite word.

Cameron moes as eerste minister bedank nadat hy ‘n referendum uitgeroep het waarin sy volksgenote ten gunste gestem het dat Brittanje die Europese Unie moet verlaat (bekend as Brexit).

Hy was daarna o.a. president van Alzheimer’s Research in die VK en dosent by die New York Universiteit in Abu Dhabi. Cameron is die derde voormalige Britse eerste minister naas Arthur Balfour en Alec Douglas-Home wat daarna die kernamp van buitelandse sake beklee sedert 1900.

As die nuwe Britse minister van buitelandse sake, sal Cameron met die intrapslag bontstaan. Dié ervare politikus wat die titel van lord dra, klim in ‘n onstuimige tydperk terug in die tuig. Wêreldvrede wankel gereeld met die voortslepende oorloë in Oekraïne en Israel-Gaza.

Dis duidelik ook ‘n strategiese skuif van die skrander Sunak wat hoop Cameron sal sy eerstehandse kennis van die internasionale én Britse politiek tydig gebruik om die wankelende en verdelende Tory-party te help saam snoer en nuwe veerkrag te gee.

Boonop wink die belangrike nasionale verkiesing in 2024 en Sunak, wat sedert 2022 in die warmste stoel sit, sal homself en sy party weer in die regeringsbanke wil sien.

Cameron neem oor by James Cleverly, wat as die nuwe minister van binnelandse sake aangestel is in die plek van Suella Braverman wat Maandag afgedank is. Dít het tot die nuutste kabinetskommeling gelei.

Sunak het die uitgesproke Braverman uit die pos ontruim ná haar omstrede uitlatings oor die pro-Palestynse betogings in Londen te midde van die uitkringende Israel-Gaza-konflik. Sy is lank as ‘n verdelende faktor in die Tory-geledere gesien.

Leave a Reply

error: Content is protected !!