Skip to main content

Velkanker is die mees algemene tipe kanker en kan mense van alle ouderdomme en rasse affekteer. In Suid-Afrika het inwoners weens hoë vlakke van ultravioletbestraling ‘n groter risiko om velkanker te ontwikkel.

“Die vel is ons grootste orgaan, en met Suid-Afrikaners se liefde vir die buitelewe het ons ‘n hoë voorkoms van velkanker in ons land,” sê dr Ayesha Omar, ‘n dermatoloog wat by die Netcare Linksfield-hospitaal praktiseer.

Die belangrikste tipes velkanker is melanoomvelkanker, en basaalsel- en plaveiselkanker, wat as nie-melanoomkankers gekategoriseer word.

“Nie-melanoom kankers kan gewoonlik suksesvol behandel word as dit vroeg opgespoor word. Melanoom is egter ernstiger omdat dit ‘n neiging het om te versprei. Dit kan ontwikkel binne ’n moesie wat jy reeds op jou vel het of skielik verskyn as ’n donker kol op die vel wat anders lyk as die res,” sê sy.

Dit is belangrik om jou dermatoloog te besoek as jy ‘ja’ antwoord op enige van die volgende:

Asimmetrie: is die een kant van die moesie groter of ‘n ander vorm as die ander?

Grens: is die buitelyn van die moesie onreëlmatig?

Kleure: het die moesie veelvuldige kleure of skakerings?

Deursnee: is die moesie groter as ses millimeter in deursnee of groei dit vinnig?

Evolusie: het die moesie verander? Bloei of jeuk dit?

“Vroeë opsporing is die sleutel. Enige verdagte moesie moet deur ’n dermatoloog bekyk word vir enige moontlike abnormaliteite en, indien nodig, moet die moesie chirurgies verwyder word en vir histopatologie gestuur word om te bepaal of verdere ondersoek en verwysing na ’n chirurg en/of onkoloog nodig mag wees.”

Individuele risikofaktore

Dr Omar wys daarop dat die aanbevole frekwensie van sifting afhang van ‘n mens se individuele risikofaktore, wat ‘n dermatoloog sal assesseer, maar dit is gewoonlik jaarliks.

“Mense van alle rasse kan ‘n risiko loop vir velkanker, veral diegene wat ‘n gesinsgeskiedenis vir kanker het of voorheen kanker gehad het, mense wat rook, immuunonderdrukte individue en diegene wat immuunonderdrukkende medikasie neem.

“Mense met ’n ligte vel, veral blondines en rooikoppe met ligte kleur oë, loop ’n hoë risiko omdat hul vel minder melanienpigment het, wat ’n mate van natuurlike beskerming teen velkanker bied. Mense wat baie sproete en moesies het, moet ook hul persoonlike risiko met ’n dermatoloog bespreek,” sê sy.

Verdedig jouself teen die son

“Daar is nie iets soos ‘n ‘gesonde sonbruin’ nie. Behalwe vir die son se UV-strale, hou sonbeddens ook ‘n ernstige risiko in,” sê dr Omar.

“Mense wat in die buitelug werk en sportsoorte soos waterpolo, krieket, gholf, rolbal en ander wat ure in die son deurbring, moet ekstra voorsorgmaatreëls tref om hul vel te beskerm.”

Sonfeite

  • Suid-Afrika se gemiddelde UV-indeks is dikwels ekstreem
  • Vermy die son tussen 10:00 en 15:00
  • UV-skade kan steeds in die skadu, onder water en op bewolkte dae voorkom
  • Bestraling van kinders se sonblootstelling kan velkanker in die latere lewe veroorsaak

Sonblok

  • Wend sonskerm aan met ‘n minimum sonbeskermingsfaktor (SBF) van 30 as deel van jou daaglikse roetine
  • Dien ten minste 15 minute toe voordat jy na buite gaan
  • Dien gereeld elke twee uur weer aan, en meer gereeld as jy swem, sweet of dit afdroog
  • Gaan vervaldatums na en dat jou produk deur die Kankervereniging van SA (KANSA) onderskryf word.

Sonskerms

  • Dra ‘n breërandhoed
  • Gebruik ‘n sambreel of wikkel ‘n handdoek om jouself teen die son
  • Kies items wat deur KANSA onderskryf is
  • Sonmoue en klere kan help om sonblootstelling te beperk
  • Praat met jou oogkundige oor UV-beskerming in jou keuse van bril of sonbril

“As Suid-Afrikaners moet ons die risiko’s van velkanker ernstig opneem en nie enige tyd van die jaar selfvoldaan raak nie. Alledaagse voorsorgmaatreëls teen UV-bestraling en dermatologiese siftings is ‘n belegging in jou langtermyngesondheid, met groter bewustheid kan lewens gered word,” sluit dr Omar af.

Leave a Reply

error: Content is protected !!