Skip to main content

Daar is ‘n diertjie in Suid-Amerika wat mense laat kopkrap. Is dit ‘n haas, of nie? wonder dié wat een onder oë gehad het.

Die oulike, donsige dingetjie waarvan ons praat, is ‘n viscacha, ‘n herbivoor wat veral in berge en in woestyn-areas in die Andes aangetref word.

Viscachas kan tot nege kilogram weeg, wissel tussen grys en roomkleurig, en is deel van die chinchilla-familie.

Hulle is nié hase nie, alhoewel hulle baie soos dié diertjies lyk.

Viscachas is vrek vinnig, en verdwyn soos blits onder rotse in wanneer hulle bedreig voel, al lyk hulle altyd moeg.

Daar is twee soorte; die Suidelike Berg-viscacha, wat lyk soos ‘n animasie-spotprent, en die Valktes-viscacha wat lyk soos ‘n bebaarde chinchilla wat ‘n masker op het.

Die mannetjies beweeg vrylik tussen kolonies rond, maar die wyfies leef in sosiale afsondering.

Hierdie diertjies is vreedsaam, en almal versorg mekaar.

Iets wat Die Waarheid nogal laat gril het, is dat hulle hul eie mis eet. Dit word koprofagie genoem, en is iets wat relatief algemeen onder herbivore voor kom.

Viscacha-babas, hoogstens twee in ‘n werpsel, word sommer gereed vir die lewe gebore. Ure na geboorte begin hul reeds vaste kos eet al drink hulle nog aan die mamma. Hulle ogies is ook dadelik oop, en hul lyfies met pels oortrek.

Leave a Reply

error: Content is protected !!