Skip to main content

Sonnette Lombaard

Die hofkryt blink en is gereed vir ‘n geveg soos min wanneer ‘n beleërde sakeman wat sy volk verwoed ophef, môre in die hof sy boelie-teenstaanders planke toe wil stuur in die omstrede hofaansoek vir die voorlopige likwidasie van die diamantmaatskappy Tariomix.

Intussen het mynmagnaat Louis Liebenberg bekend gemaak dat hy weer, soos vroeër vanjaar, omkoopgeld aangebied is om dié uitgerekte hofsaak teen die omstrede likwidateurs waaronder Susan Strydom en Vaughn Victor, in sy guns te swaai.

Hy stel egter nie belang nie, want sy regspan, onder leiding van Walter Niedinger, is positief dat geregtigheid eindelik sal seëvier en die vermetelde likwidateurs ‘n les geleer word, sê Liebenberg beslis.

Daar is reeds ‘n berg dokumente by die hof ingedien, insluitende die petisievorms van meer as 6 000 JV-vennote in Liebenberg se maatskappye wat die likwidasie teenstaan, het Niedinger aan Die Waarheid bevestig.

Die SA Inkomstediens (Sars) is ook daarteen gekant en het sy vroeëre hofverslag bygewerk om die hof te probeer oortuig dat die voorlopige likwidasie nie bekragtig moet word nie. Die saak is vir twee dae – môre en Dinsdag – in die Hooggereghof in Mahikeng geskeduleer. Dit sal weens die afstand virtueel aangehoor word.

Die lang sage wat deur deurlopende laakbare optrede van die likwidateurs gekenmerk word, het vroeg vanjaar begin. Dit het intussen genoeg kinkels bygekry. Meer as tien tussenbeidende partye vir likwidasie het intussen die hof versoek om ook tot die saak toe te tree, nadat die twee oorspronklike aansoekers onttrek het.

Oudregter Eberhard Bertelsmann, wat die artikel 418-ondervragings vooraf gelei het, het ook onlangs as kommissaris in belang van geregtigheid onttrek nadat hy toegegee het sy optrede in die aanloop kan vertolk word as bevooroordeeld teenoor Liebenberg.

Beide Liebenberg en Sars het vroeër versoek dat Bertelsmann hom moet onttrek en aangevoer sy bevooroordeeldheid en partydigheid teenoor hulle benadeel hulle saak. Meer belangrik, volgens Liebenberg is dat Bertelsmann se verslae ook nou nietig is. “Die likwidateurs het dus R15 miljoen in die water gegooi en is verantwoordelik vir die skade.”

Boonop het die likwidateurs weer Donderdag vandeesweek skoor gesoek toe hulle by die huis van Nicky van Heerden, die Liebenbergs se PA, in Kempton Park opgedaag en goed voor die voet verwyder het. In die proses is Van Heerden se selfoon hardhanding afgeneem terwyl haar swanger skoondogter, Danica, wat binnekort kraam, buite moes sit.

Dit volg verskeie en soortgelyke vroeëre beslagleggings by Liebenberg se hoofkantoor naby OR Tambo-lughawe in Kemptonpark, asook by die nabygeleë kantore van sy mediamaatskappy, Die Waarheid. Toerusting is uit die mure gepluk, en saam met dokumente en persoonlike goedere verwyder. Die beslagleggings is in militêre styl en met aggressie uitgevoer deur gewapende mans, sommige met balaklavas op.

Liebenberg het van die begin volgehou dat hy en sy maatskappye niks het om weg te steek nie en dat dié growwe teistering sy besighed erg ontwrig en personeel traumatiseer. Die nagmerrie het begin toe die likwidateurs op ‘n geslepe wyse ‘n voorlopige likwidasiebevel teen Tariomix in Februarie verkry het. Dis op ‘n plaas in Lichtenburg beteken waar Liebenberg al jare nie meer woon nie.

Tydens een van die hofverskynings vanjaar het Liebenberg bekend gemaak dat omkopery van miljoene rande voor die tyd betrokke was om die omstrede likwidasie-aansoek te laat verdwyn of te swaai. Dit sluit in dat hy R20 miljoen aan ses amptenare van die hof en die Noordwes provinsiale regering en/of R2 miljoen aan die twee aansoekers moes  betaal. Hy het geweier.

Volgens Niedinger beloop die dokumente vir die omslagtige saak nou al meer as 15 000 bladsye. Hy het bevestig dat die regter môre ook moet besluit oor ‘n elfde applikant wat likwidasie steun, se dringende aansoek om ook toegelaat te word.

Liebenberg se span sal onmiddellik met aanvang van die saak môreoggend betoog dat daar nie meer ‘n voorlopige likwidasieaansoek kán wees nie nadat die twee oorspronklike aansoekers onttrek het.

“Ons staan alle aansoeke van tussenbeidetredende partye se moontlike toetredes sterk teen en het stewige voorberei,” benadruk Niedinger.

Liebenberg het vanoggend sy JV-vennote gerus gestel en gesê hy is positief dat die saak in hulle guns beklink sal word. “Een ding wat wel seker is, is ons besighede gaan aan, watter kant toe die hof ookal mag besluit.”

Hy het ook verwys na die nuwe aansoeke vir voorlopige likwidasie teen van sy ander maatskappye wat ook intussen by die hof ingedien is. “Dis almal lopende besighede wie se skulde op datum betaal is. Ons baklei terug en beveg die voorlopige hofbevel teen Tariomix om te wys die maatskappy is nié insolvent nie en dat ons besigheid bo verdenking is.”

Hy het vroeër verduidelik dat sy maatskappye elkeen onder ‘n eie naam geregistreer is maar mekaar onderling goedgesind is.

Liebenberg is al langer as ‘n jaar fel in die kollig met gereelde ongure mediadekking van Media24-joernaliste wat hom as ‘n tweederangse Afrikaner wil uitgee. Hy beveg ook dié goedkoop joernalistiek en vals beriggewing met mag en mening.

Die waarheid is dat hy in onsekere tye sy nek uitsteek vir ‘n beter toekoms. In ‘n land met stygende armoede- en werkloosheidsyfers, skep hy werk veral vir Afrikaners en Afrikaanssprekendes. En hy maak aktief sy droom waar om Suid-Afrika se mineraalskatte terug in die hande van die gewone landsburgers te sit.

Die Afrikaner-sakeman besit reeds meer as 20 mynlisenseis om myne binne ‘n reuse-gebied van 144 000 hektaar in Namakwaland te bestuur. Dié myne produseer flink diamante en inkomste daaruit is reeds die hoofbron van inkomste vir sy besighede.

Liebenberg is oortuig ‘n blink toekoms wag met die volgende groot ding in die mynwese, die ontginning van “diamantsande” in Namaland, wat sterk wink. Lisensies daarvoor word afgewag. Die sande en diamantduine in dié afgeleë landstreek bruis met skaars en gesogte harde minerale, nodig vir die moderne millennium.

Dit sal ‘n game changer wees in die profetiese pad na sy beloofde land van “Koingnaas na Kanaän”, glo Liebenberg.

 

One Comment

  • Die wat volg, volg. Hou jouself ingelig en kyk na die feite.

    Mnr Louis Petrus Liebenberg is eerlik, opreg en staan die onreg teen.

    Hy verduidelik daagliks aan sy vennote in detail wat in sy besigheid plaasvind.

    Kyk hoe verdraai Netwerk 24 die nuus.

    Lees Die Waarheid koerant. Dit is nuus wat feitlik en waar is.

    Kom ons kyk wat bepaal die Hof waneer die reg gskied.

    May the real judge please stand up!

    Voorwaarts Mars!!

Leave a Reply

error: Content is protected !!