Sonnette Lombaard
Wat gedoen as jy op ‘n blink dag by ‘n spoorwegveiling ‘n gelukkie tref en jou bod op ‘n ou treinwa suksesvol is? Vir Rohan Vos en sy aktiewe, ruim verbeelding was die res maklik. Jy restoureer dit, haak dit aan die einde van ‘n gewone trein en deurkruis só die land saam met jou gesin in julle eie kreatiewe vakansiekaravaan op spore!
Die destydse Spoorweë het toe wel ‘n stokkie gesteek voor Rohan se ongewone “vreemde” aansoek, maar dit het hom geensins ontspoor om sy treinwa vir iets buitengewoon in te span nie. Al was hy aangeraai om eerder kaartjies uit sy treinwa te verkoop.
Rohan se spoordroom wou nie wyk nie en op ‘n aand knip hy sy verbeeldingsvlerke aan – is hy skielik helder oor sy ou treinwa. Hy sou wel kaartjies verkoop, maar dan vir ‘n luukse vintage treindiens in Suid-Afrika, wat toe nog nie bestaan het nie!
Vandag is hy eienaar en staan aan hoof van sy gesin se spogonderneming Rovos Rail in Pretoria. Al bekroon vir die luukste spoorvakansies in die wêreld. Twee jaar voor sy 80ste verjaardag, is Rohan nog ‘n onmisbare deel van dié spesiale treindiens se durende sukses.
Dié lenige, nederige man het met sy grenslose verbeelding en visie én mensgerigtheid die tydlose sprokie van treinry in ‘n suksesstorie soos min omtower.
Rohan is net ná die laaste Wêreldoorlog in die Moederstad gebore, waar hy gematrikuleer het. Sy grootwordjare het ook deur Delareyville in die destydse Wes-Transvaal gedraai. Nȧ matriek was geld te skraps vir studeer en moes hy begin werk.
Ensiklopedieë verkoop is sielsdodend, maar hy doen weliswaar “menskennis op, wat nie in boeke te vinde nie”. Van kleintyd af sit Rohan moeilik stil en was vroeg gemesmeraais deur alles op wiele en wat kan beweeg. Verder aangevuur deur die begeerte om sy eie baas te wees, het hy gou doelgerig begin fokus.
As ‘n gedissiplineerde denker was hy gewillig om ook self sy drome waar te maak. Sonder grênd grade op die koop toe; net suiwer verstand en ‘n ysere wil!
Sy kleurryke beroepsdraaie kronkel deur Witbank, eers as onderdelewinkel-eienaar, wat hy toe verkoop en die diskoteek Zorba’s Beat open. Daarna kom ‘n hardeware- en videowinkel of twee by. Nog later volg vulstasies, asook steenkoolmyne in die omgewing.
Rohan, die sakeman, het bly groei, maar hy was ook reg van die begin mensbemagtiger by uitstek. Vanaf sy eerste onderneming het hy oraloor gewillige kollegas bemagtig, wat eindelik hom dan weer sou uitkoop.
Aan sy sy was vroulief Anthea, self taakgerig met ‘n fyn hand en oog. Sy droom oor hul treinwa kry in die laat 1980s stoom. Die eerste oornag-toertrein vertrek in 1989. Nou 34 jaar later, is Rovos Rail wyd bekend en geliefd as voorste vakansie-treindiens.
Die maatskappy besit sy eie bekoorlike private stasie in die Pretoriase Moot. Dit huisves hul spoghoofkwartier en is die droom-werkplek vir die meer as 380 lojale werknemers. Treinpassasiers van reg oor die wêreld arriveer of vertrek van hier op toere.
Die stasie se luuks-ingerigte binnekant weerspieël sy treine se 1920s-styl. Buite blink die spogvloot van vier stoomlokomotiewe en ander treine (diesel en elektries), wat hier gerestoureer en gediens word. Daar is ook ‘n groot depot by Beitbrug vir die Afrika-toere.
Elke trein word gedoop en benewens Anthea, is elkeen van hul kroos, Shaun, Brenda, Bianca en Tiffany, vernoem. Een trein heet selfs Zog na Rohan se oorle, geliefde brak. Dogter Tiffany Vos-Thane (37), tans in opleiding, sal eindelik by Rohan oorneem.
Die winsgewende maatskappy in besit van die Vosse, bied vyfster-op-wiele-reise regoor Suider-Afrika en hou Rovos Rail op die internasionale treinkaart. Daar is tans 11 treintoere, vanaf vier tot 15 dae in Suid-Afrika, Zimbabwe (Victoria-waterval), Zambië, Tanzanië, die Kongo, Angola en Namibië. ‘n Spesiale Kaap na Kairo-roete kom tweejaarliks aan die beurt.
As ‘n prima-uitvoerproduk van Suid-Afrika, is dit kern om Rovos Rail se naam hoog te hou. “Alle kommentaar van gaste word gelees en beantwoord en elke klagte ondersoek en aangespreek,” verduidelik Rohan.
Al moet hy en sy span deesdae deurlopend paraat planne beraam en aanpas om met swakker infrastruktuur, beurtkrag en kabeldiefstal steeds die gesogte treinritte veral binnelands te laat realiseer. Die pandemiegrendels het ook uitdagings gebied. Die spogtreine kon eers in Februarie 2022 weer begin loop nadat treindienste vir twee jaar gehalt is. Dit het die maatskappy miljoene gekos maar baas Rohan verstaan én beloon lojaliteit. “Ek het ‘n jaar se wins geneem om werknemers te behou en te betaal.” Geld wat die maatskappy vir noodtye gespaar het, help almal deurtrek. “Ons kyk na en bou mekaar,” beaam Rohan.
Tans word verskeie ou rytuie as spaartreine in Pretoria herbou en nuwe werkers word ook opgelei.
Vir Rohan was en is treinry nog altyd “pure teater” en dis hoe hy wil hê elke gas sy treine se unieke atmosfeer en inkleding, wat die vrye era van die 1920s herroep, moet ervaar en beleef! Sy treine se vensters kan juis oopmaak om Afrika se vistas te ruik en hoor, voeg hy by.
Dis egter ‘n hartseer realiteit dat romanties reis met stoomlokomotiewe gaan verdwyn, bevestig Rohan. “Dit gebruik te veel water in ‘n waterskaarste land soos Suid-Afrika.” Tot dan, sal sy stoomlokomotiewe deel wees van sy vyfster-spoorjuweel. Met top-opgeleide personeel wat jou pamperlang met die beste kos, sorg en vermaak wyl jy in ‘n outydse trein tydsaam kronkel.
Spoorplaasbaas Rohan Vos is lid van ‘n bedreigde sakespesie wat onder Afrika se bloedson die regte soort hartsverskil maak. Sy nederige menswees is vervleg deur sy uiteenlopende prestasies.
Die strewe om in sy eie vooruitgang ook sy medemens beter toe te rus en agter te laat, is volgenswaardig. Ditto sy verstaan en voortreflike voorbeeld hoe om met gesonde verstand én verbeelding kreatief te ploeg vir ‘n wen-wen-sprokie wat grensloos en durend betower.