Skip to main content

Sonnette Lombaard

“Orange Free State, where there are no oranges, nothing is free and everything is in a hell of a state.”

Só het kaptein Bill Beaumont ná die Leeu-span se treurmare-toer van Suid-Afrika in 1980 laggend na die Vrystaat-provinsie verwys. Wel, Beaumont, teen nou ‘n sir en groot baas van internasionale rugby, kan gerus weer hier kom draai want vier dekades aan is net mooi álles hier in ‘n helse staat.

G’n wonder Suid-Afrikaners reageer maar lou en is sinies-opgewonde oor pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat hy Vrydag, 15 Desember as ‘n openbare vakansiedag verklaar ter ere van die Bokke se sege in Saterdag se taai Wêreldrugbybeker-eindstryd in Haanland. Dis reeds die nasionale Groen en Goud se vierde WB-kroon nadat hulle die gesogte Webb Ellis-trofee ook in 1995, 2007 en 2019 gewen het.

Ons nasionale rubykampioenspanne is nou nie net die mees suskesvolle span in die Wêreldrugbybeker-toernooi tot nog nie, maar het ook die eer dat hulle nog nooit ‘n WB-eindstryd verloor het nie.

Hoewel Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners met elkeen van dié viertal-seges uit hul nate bars van trots op rugby se volkshelde, is daar ‘n drastiese verskil in die aanvoelbare nasietemperatuur sedert 1995 se epogmatiese sege in ons agterplaas.

Daardie magiese wintersdag in Johannesburg se Ellispark Stadion bly warm gloei in álle Suid-Afrikaners se harte, bykans drie dekades later. Nog nooit was Suid-Afrikaners oor alle soort grense heen, só verenig soos toe nie. Toe volksvader Madiba in sy Boktrui die trofee saam met Springbokkaptein Francois Pienaar triomfantelik lig, het hoop vir ons befaamde nasie helder en wyd weergalm.

Ons, die moderne mensdom se voorbeeld-reënboogkind, sou en wou die wêreld wys hoe om dit te doen. Hoe om die vermenging van veelkleurige verledes ‘n splinternuwe glans en toekomshoop te gee. Om ‘n bloedige geskiedenis, velerlei tale en kulture en velkleure suksesvol in een boepenspot saam te roer, wat ‘n hele nasie se maag sou vul én gelukkig hou.

Dié volkspotjie het ongelukkig gou begin aanbrand en 28 jaar later, kan die vierde kroon as die beste rugbyspan op ons planeet nie die bitter, klouende smaak van ons onlekker landsrealiteite beter toor of weg wens nie.

Seëvierende Bokkaptein Siya Kolisi het ook nie weggeskram om hierdie onlekkertes tuis pertinent uit te lig in sy verskeie toesprake ná die eindstryd-wen nie.

Vir meeste Suid-Afrikaners het die verskyning van pres. Cyril Ramaphosa in ‘n Boktrui op die veld in Parys by die bekeroorhandiging die groot oomblik vir ons volk bederf. Hoe skreiend verskillend as toe sy voorganger Madiba in 1995 as ‘n mensch en Suid-Afrikaner opreg trots déél was van ‘n kernoomblik en soet sensasie met die wegspring van die skryf van ‘n verenigde volk se nuwe geskiedenis.

Daarteenoor is Ramaphosa ‘n leier wat saam in die glorie-moment en internasionale kollig in Europa wil baai, terwyl sy land tuis inmekaar duiwel en brand. Een wie hom haas na vredesgesprekke oor die Midde-Oosterse krisis wyl sy eie tuiswerf brand. Een wie se vroom praatjies en leë beloftes agter ‘n vals masker lankal deur sy eie mense ontbloot is. Die leier wat oop-en-bloot toegelaat het dat sy land in ‘n mafiastaat en korrupsie-knoeines verval het, wyl hy sag rol in sy knus en selfgeskepte rykdom vir homself en sy familie. En armoede en werkloosheid onder sy onderdane rekord-laagtes bereik.

Om dan ná sy Frankrykdraai flambojant huiswaarts te keer en selfvoldaan ‘n pasella openbare vakansiedag aan te kondig, is ooglopende politiekery. Ons wis mos almal die heersende ANC-kaders gaan van nou die krane oopdraai met die oog op die kern nasionale verkiesing in 2024.

So, geagte mnr. die president, jou pogings of truuks tot nasiebou en versoening is helaas te laat en te min. In tye van groot nood, het jy het jou volk verraai, keer op keer. Jou kanse is op. Ons eien en kies Siya en sy soortgelyke res as ons ware leiers.

Vanjaar se WB het juis ‘n mens opnuut onder die indruk gebring van watter kragrol sport in nasiebou speel. Sport is lankal ‘n erkende en uitstekende brugbouer tussen mense.

Dis eweneens ‘n fyn barometer vir ‘n nasie se welstand en meer nog, vir die verenigde versugtinge agter daai jillende krete en vreugdes. Dit verklap veel. Die Springbokke se soet sege, naelskraap of te not teen Nieu-Seeland se magtige All Blacks, kon nié op ‘n beter tyd kom nie.

Boonop spreek Frankryk as een van ons kern-wortellande se mooi ode aan die Bokke en Suid-Afrika boekdele. Toe die ikoniese Eifeltoring verkleur in die veel kleure van ons landsvlag en in die groen-en-goud, het dit moedig, helder hoop gesein aan álle Suid-Afrikaners suidwaarts. Lank lewe Liberté, Egalité, Fraternité. In Boeretaal  Vryheid, Gelykheid, Broederskap!

Leave a Reply

error: Content is protected !!