Skip to main content

Sonnette Lombaard

Vir ‘n paar minute Saterdagaand sal Parys se wêreldberoemde en elegante landmerke soos die Eifeltoring die knie moet buig voor ‘n bulderende oorlogskreet wat heil vanoor wye waters. Nie uit die Midde-Ooste of Oekraïne nie, maar passievol op ‘n Haanveld uitgevoer deur fris eierbalkrygers vanuit ‘n verre eilandjie.

Oudergewoonte sal daar in die Stade de France in Saint-Denis ‘n eerbiedige stilte neerdaal wanneer Nieu-Seeland se almal-in-swart-rugbytrots gereed maak om ons Groen en Goud kampioene in die Wêreldrugbybeker-eindstryd aan te durf.

Die raps meer as 80 000 kaartjies vir sitplek in dié spogstadion noord van Parys, tuiste van die Franse se rugbyspan en sokkerspan en ook atletiek-hoofkwartier, is lankal uitverkoop. Wanneer die skeidsregter sy fluitjie vir die afskop Saterdag blaas, begin die soveelste titaniese stryd tussen die twee rugbyreuse vanuit die Suidelike Halfrond.

Maar vir ‘n paar minute daarvoor, sal stilte eers neerdeel … voor die aarde begin tril en rugbyliefhebbers daarop saam bewe en oe en a wanneer die All Black-span fier in die nou bekende pylpuntformasie vir hulle beroemde oorlogskreet aantree. Dié stukkie sportkuns is sinoniem met die magtige All Blacks, die suksesvolste rugbsypan op Moeder Aarde.

G’n ander land of sportspan op ons planeet kan die All Blacks troef of meedoen as dit by hulle haka kom nie. Dis ‘n unieke oorlogskreet op ‘n sportveld, wat tydloos wyd geag en grensloos bewonder word. Maar waar kom dié stukkie, meesleur-sportteater vandaan?

Die haka stam uit die Māori-kultuur – die inheemse boorlinge in Kiwiland, wat sowat 18% van Nieu-Seeland se skaars meer as 5 miljoen inwoners uitmaak.

Daar is baie verskillende hakas en elkeen vertel ‘n storie. Bekend as ‘n “oorlogsuitdaging” of “oorlogskreet” in die Māori-kultuur, is die haka tradisioneel deur mans uitgevoer voordat hulle na die oorlogsveld vertrek het. Die aggressiewe gesigsuitdrukkings moet krygers op die slagveld aanvuur, die opponente bangmaak, terwyl die kreet self eie moraal lig en God vir hulp aanroep.

Die bekendste haka, Ka Mate Ka Mate, is rondom 1820 deur Ngati Toa-opperhoof Te Rauparaha gekomponeer. Dit lirieke vertel van trots, krag en eenheid. Dit word soms as ‘n simbool van stam-identiteit gebruik en is voor die aankoms van Europeërs in Nieu-Seeland uitgevoer toe die twee groepe bymekaar gekom het.

Die haka is algemeen bekend as ‘n oorlogsdans maar is ook gebruik om besoekende stamme te vier, te vermaak, en te verwelkom. Die haka word vandag nog by ander geleenthede soos verjaarsdae, troues en begrafnisse uitgevoer.

Die heel eerste Nieu-Seelandse rugbyspan, bekend as The Natives, het ‘n haka uitgevoer tydens ‘n toer deur Brittanje en Australië in 1888/’89. Die haka wat destyds opgevoer is, die Ka Mate, is die bekendste en word vandag nog deur die All Blacks uitgevoer. Eens is die haka net opgevoer wanneer die nasionale rugbyspan oorsee gespeel het en is eers in 1986 by tuiswedstryde ingesluit.

In  2005 het die All Blacks ‘n nuwer weergawe genaamd Kapa O Pango, wat eksklusief vir die rugbyspan se gebruik is, gedebuteer. Dit word slegs tydens sekere wedstryde uitgevoer.

Die Ka Mate-haka, wat waarskynlik Saterdag sal opklink, is ‘n seremoniële haka, en vier die lewe wat oor die dood seëvier. Dit word selfs deur vroue uitgevoer. Nieu-Seeland se vrouerugbyspan, die Black Ferns, voer hulle eie, kragtige haka voor wedstryde uit. Dit heet Ko Uhia Mai en beteken “Laat dit bekend wees”.

Die Kurutao (pylpunt) formasie wat gevorm word voor ‘n haka begin, is tradisioneel gebruik as ‘n afdraande momentum om die verdedigingslinie deur te steek, en so die vyand makliker te bestry.

Die haka, wat in Maori-taal “dans” beteken, behels dat die hele lyf in kragtig en ritmies beweeg, en sluit in die swaai en klap van die bors en dye, voetstampe, handgebare en tonguitsteek terwyl ritmiese liggaamsklap ‘n harde dreungesang vergesel. Die woorde van ‘n haka beskryf dikwels voorouers en gebeure in die stam se geskiedenis op ‘n poëtiese wyse.

Ondanks watter kant van die middellyn jy staan en vir wie en van waaraf jy skreeu of wat die telbord gaan verklap, die haka sleur enigeen moeiteloos mee. Wanneer die rugby-ysters uit Kiwiland so begeesterd en met presisie, respek en passie soos een man en nasie verenig en omstaanders met ‘n oerkuns meesleur, kry jy grensloos hoop … droom dat die mensdom eerder hulle onuitputlike verskille en veglus na die sportveld as slagveld sal neem.

Ka Mate (Engelse lirieke)

Let your valor rise! Let your valor rage!

We’ll ward off these haunting hands

while protecting our wives and children!

For thee, I defy

the lightning bolts of hell

while my enemies stand there in confusion!

O God – to think I would tremble

to a pack of wolves seeing fear, or running away,

because they would surely fall in the pit of shame

as food for the hounds who chow down in delight! Oh, what in the name…?

‘Tis death! ’tis death! (or: I may die) ’Tis life! ‘tis life! (or: I may live)

’Tis death! ‘tis death! ’Tis life! ‘tis life!

This is the hairy man

Who summons the sun and makes it shine

A step upward, another step upward!

A step upward, another … the Sun shines!

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!