Skip to main content

René  –  Clifton

René Compton, ‘n sangeres van Centurion, se jongste enkelsnit, Clifton, sou moontlik die temalied vir een van Marita van der Vyver se romans kon wees.

Dit vertel die storie van ’n groep vriende wat die ou jaar op Clifton in die Weskaap se strand groet en die nuwe jaar op ’n “paslike wyse” inwei.

Dié snit is ’n terugblik op menslike emosies en pyn, lief en leed, maar ook vir hoop om ’n meer genadiger jaar.

Soos die meeste van René se snitte is Clifton ook vir fynproewers wat dieper betekenis in ’n liedjie soek bedoel.  Dit is daarom ook ’n genuanseerde snit met sensitiewe lirieke en melodieë wat jy nie maklik op ’n tipiese feesverhoog sal vind nie, maar eerder in ’n teater.

Clifton is ’n volwasse kontemporêre snit en in tipiese René-styl speel sy met klanke en musikale style; keltiese klanke word fyn verweef met dié van die geklots van branders en die gekrys van seemeeue.

Sy vertel dat die snit op werklike gebeure gegrond is. “So ’n paar jaar gelede het ons na die strand gegaan om die Oujaar te groet. Die strand was gepak. Ons het begin nostalgies raak, gedink aan die jaar wat verby is. Ons het ons laste en vreugdes met mekaar gedeel en gewonder oor hoe ons dinge anders sou kon aanpak.

“Een van my vriendinne het ’n bitter moeilike jaar agter die rug gehad, en haar grootste wens was dat die nuwe jaar genadiger, soeter sou wees,“ vertel René.

René se lirieke vertel visuele stories. Dit is asof die luisteraar die gloed van die son se laaste strale, die branders se wit skuim, die vlamme van honderde kerse wat in die sand gedruk is, kan sien.

“Terwyl ek na die branders wat op die strand breek gekyk het, het die beeld van ’n brug by my opgekom. As ons net ’n brug oor die seer en swart van gister kon bou, sou ons weer by die lig uitkom,“ onthou sy.

Die oud-Bloemfonteiner het vroeër vanjaar, na ’n musiekdroogte van amper twee dekades, ’n vollengte album, Vrede in die Choas, uitgereik. Die snit “Afrika-vrou” is ook op radio se speellyste uitgereik, en sy is geloof vir die sterk lirieke waarin die ritme van ’n vrou se hart ’n metafoor geword het vir vroulike emansipasie.

“As musiek in jou bloed is, kom jy altyd weer terug daarnatoe, al is dit onbepland. Ek was skielik net weer lus om liedjies te skryf,” vertel die oud-verpleegkundige. “Ek is ’n emosionele liedjieskrywer. Ek kan nie sommer net oor dit of dat skryf nie. Iets moet my aanraak.’’

Tussen die verskyning van haar laaste album,  Die Verkeerde Kant Van Reg, en die nuwe een, het René wel af en toe voor die vleuelklavier in haar sitkamer ingeskuif om liedjies te skryf.

Sy het mettertyd gehoor gegee aan vriende se versoeke om weer ’n album op te neem en op te tree.

Sy het ook al voorheen haar  hand aan musiek met ’n Skandinawiese rock-aanslag gewaag , maar Afrikaans is steeds die taal van haar hart. Dié taal is vir haar die instrument waarmee sy oor temas in en om haar lewe skryf.

Sy het in 1986 aan die Hoërskool Sand du Plessis in Bloemfontein gematrikuleer. In haar eerste jaar as verpleegkunde-student aan die Universiteit van die Vrystaat het sy die kampus se talentkompetisie met een van haar eie komposisies gewen.

In 1996 word haar eerste album Kampus Lady vrygestel. Daarop was die treffer “Marionettespel” wat gereeld op radiostasies landswyd gespeel is.

Haar droom is om nog eendag haar musiek na Nederlandse en Belgiese gehore te neem.

“Ek is mal oor die krag van hul musiek. Wie weet, dalk gebeur dit nog. Tyd sal leer.”

Riaan Steyn het die snit verwerk en die vervaardiging is deur Rene en Christio Schutte in Pretoria behartig.

Leave a Reply

error: Content is protected !!