Skip to main content

Rugbyliefhebbers gaan die naweek vasgenael voor die TV sit wanneer die vier kwarteindrondes in die stryd om die Webb Ellis-beker in Frankryk beslis word.

Dit is met die eerste oogopslag duidelik dat die boonste twee groepe in die loting aansienlik sterker as die onderste helfte is, met die kragmetings tussen Nieu-Seeland en Ierland Saterdagaand en Suid-Afrika en Frankryk Sondagaand wat albei eindstryde kon wees.

Die Waarheid kyk vandag na die vier kwarteindstryde en waag voorspellings. Daar is vier Noord-teen Suid-kwarteindwedstryde, en ons voorspel dat drie van die vier Noordelike spanne kan deurdring.

Saterdag:

Wallis teen Argentinië (afskop 17:00)

Wallis se breier, Warren Gatland, is ‘n uitgeslape jakkals. Hy het ‘n effektiewe, eenvoudige wedstrydplan – so eenvoudig dat selfs Walliese rugbyspelers dit kan onthou.

Hou die bal weg van jou eie doellyn, behou besit vir lang tye, wen telkens ‘n halwe meter, verdedig in 2’s en bly weg van die aanskoulike duikslae wat jou rooi of geel kaarte in die sak kan bring.

Sorg dat die spelers wat diep verdedig die bal ver terugskop – oor die halflyn. En as hulle dit op die halflyn kry, moet hulle dit kwartlyn toe stuur. En speel net wyd uit vaste fasette.

Dit is ‘n laerisikoplan, ontwerp om te wurg en te frustreer, en dit het Fidji en Australië tot dusver gekelder. Dit kan die Argentyne se ondergang ook wees.

Moet die manne uit die Suidelike Halfrond nie onderskat nie. Hulle voorspelers is solied eerder as opwindend, maar agterlangs het hulle baie skietgoed.

Verwag een of twee pragdrieë deur Argentinië met Dan Biggar se skopvoet wat die telbord vir Wallis aan die rol hou.

Dit is onwaarskynlik dat die wedstryd opwindende rugby sal oplewer, maar die twee spanne weeg goed teen mekaar op en die punteverskil gaan nie groot wees nie. Wallis is met ‘n kortkop die gunstelinge en ek voorspel dat hulle met rondom vyf punte gaan wen.

Ierland vs Nieu-Seeland (afskop 21:00)

Hierdie is ‘n riller! Ierland is die voorste span in die wêreld, en Nieu-Seeland is … wel, Nieu-Seeland.

Dit gaan byna soos ‘n tuiswedstryd vir die Iere wees met derduisende groengeklede, luidrugtige toeskouers in die pawiljoene.

Ierland sukkel met ‘n paar beserings, maar die All Blacks het lank laas so goed gelyk soos mens van ‘n All Black-span verwag.

Die Iere het die briljante Johnny Sexton in die nommer 10-trui, maar dis nie ‘n span wat op ‘n enkele swaeltjie staatmaak om Oktober 2023 ‘n somer te maak nie – dis ‘n goeie span en basta.

Hulle het nog nooit verder as die kwarteindronde gevorder nie, anders as Nieu-Seeland, wat dit as ‘n mislukking beskou as hulle in die kwarteind vasval.

Die All Blacks het die Springbokke vroeg vanjaar verrinneweer met ‘n blitzkrieg in die eerste 20 minute. As hulle dit teen die Iere kan doen, kan hulle verras, maar ek verwag dat Ierland die knoop gaan deurhaak. Die span het 17 agtereenvolgende wedstryde gewen. Tradisioneel is Ierland onbestendig, maar hierdie is nie ‘n tradisionele Ierse span nie. Hulle is kil en berekenend…

Die wedstryd sal ‘n naelkou-gedoente wees, en die All Blacks gaan waarskynlik minstens een geel kaart kry.

Verwag dat die Iere met nege punte gaan koning kraai.

Sondag

Engeland vs Fidji (17:00)

Kyk, die Fidjiane is monsters wat nie gestuit word as hulle eers soos mal goed met die bal begin hol nie. En nou het hulle nog skrumvaardighede ook, terwyl hulle verwoestend in die losskrums is.

Hulle het in die groepfase met die Aussies afgereken en hulle het ‘n wedstryd teen Wallis verloor. Ons gaan almal vir Fidji skree, want niemand is meer aanskoulik as die Fidjiane as hulle eers op dreef kom nie. Dan hang ons almal se kakebene op die grond.

Maar dit gaan nie genoeg wees om die Rooinekke af te slag nie.

Engeland is vanjaar bra middelmatig, maar dit lyk of hulle al hoe beter begin speel. Hulle is ‘n span wat weet hoe om toernooirugby te speel – deur een wedstryd op ‘n slag te wen, al is dit nie opwindend nie.

Die Engelse het nie veel van ‘n wedstrydplan nie, dis moeilik om vir hulle te skree en hulle doen niks wat mens opgewonde maak nie. Maar hulle is steeds Engeland. Saai en voorspelbaar, maar sterk.

Ek verwag die Fidjiane gaan minstens een drie druk wat verdedigers na lug sal laat gryp, maar die Engelse gaan stelselmatig die oorhand kry.

Verwag dat Engeland met 12 punte gaan wen.

Frankryk vs Suid-Afrika (21:00)

Die span wat hier wen, gaan eindstryd toe – hou maar dop. En ek dink dit gaan die Bokke wees.

As die losskakel Romain Ntamack gespeel het, Antoine Dupont perdfris was en Paul Willemse by die wêreldbeker was, sou ek nie geskroom het om ‘n Franse sege te voorspel nie.

Maar soos sake nou staan, dink ek die Springbokke kan net-net die pyp rook.

Ja, die Franse het die briljante agtsteman Gregory Alldritt. En Thomas Ramos, die beste stelskopper in die wêreld. Sowel as 80 000 gillende, jillende warmbloedige Franse toeskouers wat blou moord skree.

Maar die Bokke het dissipline, ‘n hengse skrum, goeie lynstaanwerk en byna ondeurdringbare verdediging.

Suid-Afrika behoort die oorhand in die vaste fasette te hê, die Franse behoort die stryd om die losbal te wen en die agterspelers gaan sake tussen hulle moet uitspook. Daar is natuurlik nog twyfel oor ons stelskopwerk, veral met Rassie Erasmus-hulle wat hulle kaarte in terme van spankeuses styf teen die bors hou.

Gaan Handrè Pollard begin of gaan hy die bank warm hou sodat Manie Libbok kan begin? Dit kan ons suur bekom as hy ‘n paar strafskoppe misskop.

Gaan hulle vir Lukhanyo Amm kies? Hy is sekerlik nie wedstrydfiks nie? En wat van die plaasvervangersbank? 7-1? 6-2? 5-3?

Daar’s baie vrae. Sondagaand sal ons die antwoorde ken. Maar ek glo die Bokke gaan deurskraap met twee punte.

Leave a Reply

error: Content is protected !!