Skip to main content

Sonnette Lombaard

The difference between a good life and a bad life is how well you walk through the fire.”

Meander ‘n mens deur die middeljare, kom dié wysheid van die Switserse psigiater en psigoanalis Carl Jung helder in visier. Jy verstaan dit vir die eerste keer in volle, vuurlike omvang.

Jung se werk veral oor ons kollektiewe onderbewuste en drome het die psigiatrie geslyp en vernuwende kyke in die studie van godsdiens tot letterkunde gebied.

Vuur word deur Christene, Hebreërs en Chinese as ‘n simbool van goddelikheid beskou. In die Christendom simboliseer vuur godsdiensywer én martelaarskap. In ander kulture verteenwoordig vuur ‘n gevoel van beheer, asook van wysheid en kennis.

Ek steek ook hieroor kers op by ‘n Kaapse vuurkenner, Dr. Bruce Copley, eertydse sportwetenskaplike en nou internasionaal gereken vir sy holisitiese leringe oor menswees. Passievol oor vuur van jongsaf, leer hy mense, jonk en oud, om self ‘n primitiewe vuur te maak en oor hoe dit ‘n kragmetafoor vir leef is.

Van die vier kern elemente, nl. aarde, water, vuur en lug, is vuur die moederelement. Dis nodig om water, aarde en lug te maak en ook die enigste element wat met alle lewende organismes die leefsiklusse van geboorte, lewe en dood deel, verduidelik Bruce.

Vuur is volgens hom die grootste ontdekking nog, want alles figureer daar rondom. Argeologie bewys die kuns van vuurmaak is al 1,5  miljoen jare gelede in die mensdom se wieg ontdek.

Dít alles is tydige as tot nadenke vir my, waar ek tans terugloop na kernbakens onderweg na sestig somers. My gedagtes bondel in hopies saam, steek verskeie vure in my binneste aan. Overgesetsynde, doen ek my eie vuurloop, liewe leser. Vertoef vir die eerste keer doelbewustelik by my vure padlangs én vind verruimende vonke skiet daaruit.

Herinner my aan ‘n fliek, getiteld Things we lost in the fire (2007) met o.a. Halle Berry. Dié treftitel het my destyds diep geroer en kleef steeds saam met die draaiboek se tydlose boodskap van nooit opgee nie. Om altyd na hoop, ook in die donkerte, selfs in puin, te bly soek!

Dit skerp my wese op – is dit nie juis wanneer ons deur die lewe se vure beur wat ons telkens na binne én buite ten beter transformeer nie?

Vuur is inderdaad so ‘n mooi metafoor vir ‘n menslewe op Aarde. En wyl ek in die aanloop tot my mylpaalverjaarsdag die lewenslesse tot hier afstof, blyk my vure ‘n ryk ligbron te wees. Om te krap tussen die as gee my moed vir vorentoe stu in die wedloop na die eindstreep.

Elke menslewe brand vol vure en elkeen moet eenmaal daarlangs aandoen. En wyl ‘n vuur ook vrees en verskrikking kan saai, is dit terselfdertyd aangrypend mooi! Soms moet ons selfs binne-in hierdie woedende brande vertoef.

Dualiteite soos dít, verklap altyd veel – is dit nie presies die prys van leef en menswees nie? Niemand kan hul vure ontduik of ontwyk nie, dit kruis elkeen se kronkelweg onvermydelik. En ons moet dan daardeur ‘n weg vind …

Die uitdaging is om midde-in die vure en brande om ons in ons menswees te bly skyn. Met die wete dat die wonderwaarde van vuurloop agterna wag, skuilend in die as … daarin gloei stewige skatte.

Vure kan vir seker verwoes, maar oorleef ons dit, dien dit ‘n duidelike doel! Dis ‘n suiweringspasassie soos min, want dit LOUTER die lewe en jou menswees. Al voel dit dalk jy wil daartydens versmoor, verskroei en kan omkom.

In daai warmste vuur-oomblikke skyn die lig daaruit die helderste. En langs of ìn vure warrel hartliker halms van hoop – daai kooltjies skiet krag en klarigheid!

Vuur se waarde is van die grootste en mooiste lewenslesse aan my sover. Vure spel nie nét gevaar nie – is jy ‘n gelukkige drommel om nie daarin om te kom nie, bied dit ‘n broodnodige bakoond. Met helende wonders waaruit jy vir vorentoe gevoed word.

Dit gaan nooit oor die things we LOST in the fire(s) nie; veel eerder oor dit wat ons agterna daaruit wen. Dalk deel van die soms agterstevoorom voorregte van leef? Vuurloop is ’n ritueel wat jy noodgedwonge aan eie vel moet voel en takseer – dit skroei en stroop diep.

Teen nou wis ek van vure wat verhelder en vernuwe – ook om ferm in geestesoog te hou en die helder lig daaruit vir jou aanreis in te span.

Die mitologie vertel hoeka van die Feniks-voël se siervlug, met ‘n hartseerlied, voor dit neerstort en verbrand. Die towertroos is die hoop wat dit saamvlieg – die wonder om telkens te vernuwe, weer vlerke te lig. Vanuit die as te verrys: “No Phoenix can arise from no ashes.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!