Skip to main content

Een van die leiers van ‘n nuutgestigte organisasie wat Namakwaland se vakmanskap-diamantmyners verteenwoordig, is Saterdagaand in hegtenis geneem na ‘n woordewisseling met Veronica van Dyk, die Demokratiese Alliansie se adjunk-skaduminister vir Sport, Kuns en Kultuur.

Arno Fortuin, ‘n lid van die uitvoerende komitee van die nuwe Namaqualand Artisan Miners-organisasie (NAM), is deur die polisie weggeneem by die omstrede Woeskusfees, wat gister deur rassespanning en geweld bederf is. Van Dyk is die gasvrou vir die fees wat gisteraand op haar ‘Die Houthoop’ buite Kleinzee ten einde geloop het.

Die DA-politikus het die afgelope weke hope van Die Waarheid se lesers die harnas ingejaag nadat “inwoners van Kleinzee” gekla het toe dit aan die lig gekom het dat vakmanskap-delwers die Woeskusfees sou bywoon. Die sakeman Louis Liebenberg het dosyne informele myners se duur kaartjies teen R350 stuks betaal.

Liebenberg, wat die mynregte van 24 myne op 144 000 hektaar in die gebied bestuur, is besig met roadshows oor die hele streek waartydens die leiers van die NAM die inwoners oor die toekomsplanne inlig. Liebenberg veg al jare vir die wettiging van die Nama-kleinmyners, wat geslagte lank deur drakoniese regulasies ontsê is om op hul eie geboortegrond te mag delf.

Informele prospekteerdelwery is die ruggraat van Namakwaland se ekonomie, waar werksgeleenthede so skaars soos hoendertande is en die meerderheid van die inwoners hulle tot die delwersvelde moet wend om te oorleef.

Gisteraand moes die sakeman inderhaas van Port Nolloth af Kleinzee toe ry toe die delwersleier se arrestasie aan die lig gekom het.

Na gesprekke met ‘n Sersant Cloete by die Kleinzee-polisiestasie is die delwer vrygelaat. Hy is per bus na Nuttabooi, een van die setels van delwersbedrywighede in die gebied.

Fortuin vertel dat hy Vrydagaand ook op die fees was. Mense het hulle toe reeds behandel “of ons nie in hulle klas was nie. Asof ons nie geregtig is om te koop nie. Dit was baie rassisties,” vertel hy.

“Daar was ‘n gangetjie na die kroeg toe. As die blanke mense van voor af kom, loop hulle jou sommer eenkant toe. Alle goeie sitplekke is deur die wit mense volgesit. Ons moes op muurtjies, op bakstene sit want daar was nie stoele vir ons nie.

“Die Vrydagaand reeds het ek aan dieselfde tafel as Veronica gaan sit, want dit was die enigste oop stoel. Sy het opgestaan en oproepe gemaak. Dit het gelyk of sy foto’s van my neem.”

Hy het in ‘n stadium met Van Dyk gepraat. “Veronica het gesê sy verneem Louis het ons daarheen gestuur om die fees te ontwrig. Ek het gesê nee, ons is net daar om ons te geniet, veral omdat ons nie ‘n geleentheid gehad het om ons kultuur tydens die onlangse erfenisdag uit te leef nie. Ek het benadruk Louis het ons nie ‘gestuur’ nie.

Hy vertel verder: “Toe ons gister by fees opdaag, toe kom daar hordes polisiemanne. Ek dink hulle het polisie en sekuriteit versterk juis oor ons deelname.

“Toe hulle my vrylaat, het ek ‘n boete van R100 gekry. Ek het die boete voor die polisiemanne opgeskeur. Ek betaal dit g’n!”

Hy sê hy het R1 080 in sy sak gehad toe hulle hom toegesluit het. Hy het dit nie met vrylating teruggekry nie omdat die polisielede wat hom in hegtenis geneem het, toe reeds van diens was.

Amanda Ruwizhi. ‘n wettiglik gedokumenteerde delwer van Zimbabwe, vertel dat die polisie besonder geniepsig was met Arno se inhegtenisneming. “Toe ek hulle vra waaroor die arrestasie gaan, toe bly hulle net stil. Hy het niemand uitgelok nie, hy het nie moles gemaak nie.

“Ek het die hele gedoente as besonder rassisties ervaar. Die polisie en sekuriteit het ons omring asof ons misdadigers is wat daar is om moeilikheid te maak. Maar ons was maar net daar om te ontspan.”

Kriek Augustus, Nama-leier van Port Nolloth se omgewing wat ook die fees bygewoon het, het skerp gereageer op die vrot reuk van rassisme wat die Woeskusfees omhul en versuur het.  “Die fees is in ons gebied gehou en het beoog om die hele streek wyer blootstelling te gee.

“Word ons as inheemse inwoners dan nie erken hier nie? Hoe was daar dan nie vir ons ook ge-cater nie? Dis ’n onaanvaarbare oorsig en vergryp in sensitiewe tye waar ons juis probeer hande vat en die streek uitbou as voorbeeld van beter samewerking oor rasgrense vir ‘n beter toekoms vir almal.

“Boonop was dit opvallend dat slegs nie-blankes by die hekke ge-scan is,” sê Kriek. “Dis rassisties en onaanvaarbaar in ons demokrasie en die jaar 2023.”

“Voorts is die polisiëring op Kleinzee treurig in die algemeen, tog kon Veronica van Dyk haar politieke mag en invloed gebruik om vir een fees op een plaas die hele plaaslike polisieteenwoordig paraat te hê. Hoe werk dit?”

Klaarblyklik was daar ook ‘n voorval waartydens ‘n wit man ‘n bruin feesganger aangerand en skotvry daarvan afgekom het.

Volgens Kriek gaan dit ook nie lekker af nie dat Veronica as politikus en met haar invloedsfeer die Woeksusfees duidelik by uitset slegs vir wit mense beplan en aangebied het.

Harold McGluwa, die Noord-Kaapse leier van die DA, het aan Die Waarheid gesê dat hy nie kennis dra van enige van die ongelukkigheid rondom die fees nie. Hy het ons na Van Dyk verwys.

Teen publikasietyd het Van Dyk nog nie op navrae gereageer nie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!