Skip to main content

As jy Saterdag naby aan die Oos-Rand is, moenie Die Waarheid se Lentefees op die Hoërskool Brandwag se sportgronde in Benoni misloop nie – dit beloof om ‘n dag van vermaak te wees wat jy nie gou gaan vergeet nie.

Die hekke maak reeds om 08:00 oop en die pret gaan tot na 21:00 aanhou.

Van die kunstenaars wat gaan optree, sluit in Sonja Herholdt, Rudi Claase, Liezel Pieters, Alanda de Bruin en orkes, Rooksein en The Staccatos.

Daar gaan ‘n spesiale kinder-terrein wees met kindervermaak uit die boonste rak. Lollos en Lettie, ons almal se gunsteling-kindervermaaksterre, sal ook daar optree.

Die beroemde veteraan-omroeper Niekie van den Berg sal die seremoniemeester wees en daar is hope stalletjies en weggeepryse om jou belangstelling regdeur die dag te prikkel.

Daar is weliswaar nie ‘n biertent nie, maar jy kan jou eie koelboks inbring teen ‘n “koelfooi” van R50.

Die hoogtepunt onder die aktiwiteite is ‘n biermyl wat om 17:00 beslis word. Daar is ook ‘n rolstoelresies en kleurpretloop.

Die atletiek-hoogtepunt van die dag is wanneer Die Waarheid se redakteur, Dirk Lotriet, ons prokureur, Walter Niedinger, in ‘n 100m-wedloop die stryd aansê.

“Ek weet mense sê jy kan nie vir die reg weghardloop nie, maar ek het ‘n paar planne in die mou. Daar wag ‘n skok op Walter,” het Lotriet vanoggend gesê.

Tipies prokureur wou Niedinger hom nie oor sy kanse uitlaat nie.

Kaartjies is beskikbaar by iTickets (www.itickets.co.za), maar kan ook by die hek gekoop word. Die hele dag se pret en vermaak kos ‘n skamele R150 per volwassene. Kinders tot 12 kan vir R80 inkom.

Bring jou eie kampstoel en kombers!

Adres: 49 Aerodromelaan, Northmead, Benoni.

One Comment

Leave a Reply

error: Content is protected !!