Skip to main content

Kleinzee, aan die weskus van die Noord-Kaap, wat aan die mond van die Buffelsrivier lê, is veral bekend vir sy diamantmynbedrywighede. Dié beskrywing van die area, wat ‘n rivier insluit, is egter oëverblindery, want die rivier is die meeste van die tyd net ‘n droë sloot wat ongeveer elke tien jaar water na die see dra.

Die Waarheid se besoek aan Kleinzee is gevul met mense wat hartstories vertel, pleidooie lewer met hande teen borskaste, en duidelik sigbare armoede wat die portret van hierdie storie se raam vul.

Die koerante was verlede week vol stories oor ongeveer 2 000 ‘onwettige delwers’ wat uit hul ‘shanties’ gesmyt is voordat dit deur stootskrapers platgestoot is. Die onwettige delwers is in hordes weggery, terwyl dié wat in en om die omgewing woon, verslae in klein groepies rondgestaan het, onseker van wat nou vir húlle voorlê.

Swaarkry is diep in hul stowwerige gesigte geëts; in hul growwe hande gekarteer, die vingernaels almal stomp gewerk vir ‘n brood.

Agterdog in moeë oë tref diep wanneer mens met hulle probeer praat, want volgens hulle is dit die Wittes wat hulle al vir geslagte beroof van die skatte wat onder húlle grond lê.

“Ons is kleindelwers, nie diggers nie. Verstaan dit mooi, en loop skryf dit so in die media. En soos julle nou kan sien … in Kleinzee byt ons letterlik en figuurlik in die stof,” beduie ‘n man wat nie sy naam wil noem nie. “Ons sit met niks. Nie hier nie, en ook nie by ons huise nie. Alles is hier gevat. Àlles. Ons sal seker arm sterwe. Gebore met fo**ol, loop dood met fo**ol,” voeg hy bitter by terwyl sy stem emosievol bewe. “Wat moet onse mense nou vandag eet? Ons leef van dag tot dag. Môre is nie eers in onse koppe nie.”

‘n Laaigraaf werk onverpoosd voort om die plat baksteengebou en sinkhuisies se reste op te ruim. Die sowat dertig hangskouer-delwers wat rondstaan het gister nog ‘n dak oor hulle koppe gehad het, maar nou het hulle niks nie.

“Kyk net daar. Onse goeters lê onder daai klippe en hope. Selfs ons identiteitsboekies is daar iewers. Hulle het die buitelanders met al hulle goed kom haal. Hulle kans gegee om hulle se besittings en papiere te vat voor die masjiene alles gelyk gemaak het. Maar óns, ons wat hier hoort, het nie kans gekry om eers ons identiteitsboekies en goed te loop haal nie. Ek hoor daar was mense wat onder die gebou se houtvloere weggekruip het voordat dit platgestoot is. Nou is hulle sommer begrawe,” praat ‘n jongerige vrou. “Hoe waar dit nou is, weet ek nie, maar die mense praat so.”

Dit is moeilik om hul ouderdomme te skat want almal is oud gewerk aan die buitekant van hul liggame. Binne is hulle egter nog driftig.

“Die mense dwing ons nou om skelm te word. Ons gaan nou met kopligte in die nag moet loop gruis haal sodat ons kan eet. Hier is fo**ol anders wat vir ons iets in onse mae kan kry nie.”

Vir die klein van gestalte-mense wat as agtjariges by voorouers geleer delf het, lyk die toekoms nou donkerder as ooit.

Daar is tans nuwe verwikkelinge, maar die kleindelwers voel ingedoen oor wat aan’t gebeur is.

“Dis goed en wel om te sê dat hier nuwe verwikkelinge is, maar vir ons beteken dit fo**ol. Ja, Kleinzee Holdings het wel poste geadverteer waarvoor ons ook kan aansoek doen, maar wat sê die vereistes? Ons moet matriek hê. Waar sal ons nou ooit kon skoolgaan terwyl ons moes werk vir oorlewing, nevermaaind matriek doen? Ons is dus nie gekwalifiseerd om aansoek te doen nie,” sê ‘n man wat net as Langes bekend wil wees. “Ons word oral gen**i. En niemand staan vir ons op nie. Kan ons nie net ons eie politieke party stig wat nét vir kleindelwers baklei nie? Hierdie is óns grond. Óns lewe. Óns kos! En dit word al geslagte lank by ons gesteel. Gaan De Beers vir ons sorg noudat hulle meeste van die rykdomme gesteel het en verkas het? En gaan die volgende lot ons ook besteel?”

‘n Honger mens word ‘n ander spesie. Die wedloop om oorlewing steel nugter denke, en selfbehoudsinstink teel harde en onvergeeflike wesens.

Die lot van die kleindelwers op Kleinzee is so onseker soos ‘n kommapunt. Niemand weet wat daarna gaan volg nie, maar een ding is seker: Dat hierdie mense gaan ophou probeer om leë mae te vul, is ‘n ronde nul.

Leave a Reply

error: Content is protected !!