Skip to main content

Sonnette Lombaard

Hoewel dit geensins verbaas dat Suid-Afrika met sy stygende misdaad- en moordsyfers een van die gevaarlikste lande op Aarde is nie, verras dit tog dat Kaapstad, en nie Johannesburg nie, onder die wêreld se 40 “dodelikste” stede tel.

Dié nuus kom uit die hartland van seker dié land op Moeder Aarde waar ernstige misdaad deurlopend amok saai en moord oor dekades koning kraai. Mexiko het die twyfelagtige eer dat nege van die top tien stede met die hoogste moordsyfer in 2022 binne sy landgrense val. Die Mexikaanse dwelmmafias en misdaadkartelle is wyd bekend en word oraloor gevrees.

New Orleans in die Amerikaanse suide is al stad buite Mexiko wat die “eer” deel om onder die top tien te tel van die moordmekkas op ons planeet. Onder die top 40 pryk ses bekende Amerikaanse stede, wyl die name van stede en berugste moord hot spots in Suid-Afrika en Brasiliȅ ook prominent in dié boonste groep voorkom.

Die name van vier stede in Suid-Afrika verskyn onder die top 40 gevaarlikste plekke in 2022 met Kaapstad wat die 12de plek inneem. Dit is dus nou amptelik die dodelikste metropool in die land, gevolg deur Durban (15de plek), Port Elizabeth (18de plek) en Johannesburg (34ste plek). In Kaapstad was daar 63 moorde per 100 000 mense  laas jaar. Dis slegte nuus vir die Moederstad, die land se prima-vakansieplek, ook onder buitelandse toeriste.

Die nuus volg die pasvrygestelde jaarverslag oor stedelike moordstatistieke vir die jaar 2022. Die Mexikaanse organisasie CCPSCJ (The Citizen Council for Public Security and Criminal Justice) stel jaarliks ‘n lys op van die wȇreld se “dodelikste” stede, gegrond op die aantal moorde per 100 000 inwoners.

Daarvolgens deel die dodelikste stede die ongure moderne turksvye van onbeheerste bendegeweld, massaskietery, armoede en uitgestrekte en diverse, digte metro-bevolkings. Die meerderheid van die gevaarlikste plekke is ook in die westelike deel van die Aardbol met stede in Suid- en Sentraal-Amerika, asook die VSA wat die lys oorheers.

Onder die nege Mexikaanse stade onder die top tien, beklee Colima, die hoofstad van die gelyknamige staat, die topposisie as die dodelikste stad in die wêreld in 2022 met 182 moorde per 100 000 inwoners laas jaar. Colima het ander berugte moordstede soos Tijuana, New Orleans, Kingston, Port-au-Prince en Cali getroef vir die ongure titel.

Dis ook die sesde jaar agtereenvolgend dat ‘n Mexikaanse stad die topposisie op die CCPSCJ se jaarlikse verslag oor stedelike misdaad wêreldwyd beklee.

Voorts dra Mexiko se dominansie hierop daartoe by dat 23 van die top 40 gevaarlikste stede in 2022 in Noord-Amerika voorkom. Benewens New Orleans, het ander bekende misdaadgeteisterde stede soos Baltimore, Detroit, Memphis, Cleveland en Milwaukee, asook een stad elk in Jamaika en Haiti die lys gehaal van metropole waar geweldadige misdaad die meeste heers.

Die syfers bevestig dat New Orleans, lank geliefd onder toeriste as musiekmekka – met 71 moorde per 100 000 mense in 2022 – die onbetwiste moordhoofstad in Yankland geword het. Interessant, spruit 97% van die moorde laas jaar in die stad uit wapengeweld.

Leave a Reply

error: Content is protected !!