Die aantal massaskietvoorvalle in die VSA het die 500-kerf oor die naweek bereik, volgens die Gun Violence Archive (GVA). Dit dui op gemiddeld amper twee massaskietvoorvalle per dag.
Sondag het die Denver-polisiedepartement ‘n waarskuwing op X (voorheen Twitter) geplaas wat ‘n skietery bevestig het waarin vyf mense beseer is, wat dit die 500ste voorval van die jaar maak.
Net ure later het die El Paso-polisie berig dat hulle ‘n vroegoggendskietery in Oos-El Paso ondersoek wat die lewe van ‘n 19-jarige man geëis het en nog vyf beseer gelaat het, wat die totale aantal massaskietvoorvalle op 501 te staan bring.
Volgens die GVA-webwerf word ’n massaskietery gedefinieer as ’n voorval waarin vier of meer mense geskiet en óf beseer óf vermoor word, maar die skieter is nie ingesluit nie.
2021 het die hoogste aantal massaskietvoorvalle in die Amerikaanse geskiedenis gehad, met 689 aangemelde voorvalle, en terwyl die getalle in 2022 tot 647 gedaal het, het FBI-data ‘n groter aantal ongevalle getoon.
Onlangs het die Nasionale Sentrum vir Onderwysstatistiek (NCES) sy jaarlikse misdaad- en veiligheidsverslag vrygestel, wat 188 skoolskietvoorvalle met ongevalle in die 2021-’22-skooljaar aan die lig gebring het, meer as twee keer die aantal voorvalle wat ‘n jaar tevore gedokumenteer is.
’n Studie wat in Februarie deur die Annals of Internal Medicine gepubliseer is, dui aan dat wapeneienaarskap die afgelope paar jaar gegroei het, met 7,5 miljoen Amerikaanse volwassenes wat tussen Januarie 2019 en April 2021 nuwe wapeneienaars geword het.
Die tweede wysiging van die Amerikaanse Grondwet waarborg die reg om wapens te dra, en ongeveer ‘n derde van Amerikaanse volwassenes sê hulle besit persoonlik ‘n geweer. ’n Peiling wat Gallup in Oktober 2022 gedoen het, toon egter dat die meerderheid Amerikaners ten gunste is van wapenbeheer, met 57% wat strenger wapenwette ondersteun.
Die kwessie bly egter uiters verdelend. Volgens ‘n ander Gallop-studie is Demokrate byna eenparig in hul steun vir wapenbeheer, terwyl minder as ‘n kwart van die Republikeine strenger regulasies ondersteun.