Kobie Cilliers
Spanje se vrouesokkerspan het op 20 Augustus geskiedenis gemaak en vir die eerste keer die Wêreldbeker-titel gewen, maar La Furia Roja (Rooi Woede) se prestasie word sedertdien oorskadu deur ‘n soen wat dié land se sokkerbaas op ‘n sterspeler se mond geplak het.
Die toernooi, wat gesamentlik deur Australië en Nieu-Seeland aangebied is, was die grootste tot nog toe en ‘n uitstekende vertoonvenster vir vrouesokker. Die aanskoulike en opwindende aksie op die veld is egter nou te midde van al die omstredenheid grootliks ‘n nagedagte.
Luis Rubiales, president van die Spaanse Sokkerfederasie (RFEF), het aanvanklik om verskoning gevra dat hy ná afloop van die eindstryd in Sydney die sterspeler Jenni Hermoso onbeskaamd en sonder haar toestemming op die mond gesoen het.
Rubiales (46) het die soen op Hermoso (33) se lippe geplant terwyl hy ná Spanje se oorwinning met 1-0 teen Engeland die spelers se goue medaljes tydens die oorhandigingseremonie aan hulle uitgedeel het.
Die voorval het woede in Spanje veroorsaak en is deur talle mense oor die wêreld heen veroordeel.
Rubiales het nog ’n gebaar gemaak wat wyd veroordeel is. Die Spaanse sokkerbaas het sy geslagsdeel gegryp terwyl hy die span se sege in die paviljoen gevier het.
“Ek het beslis ’n fout gemaak en ek moet daardie feit erken,” het Rubiales in ’n video op sosiale media gesê.
“Ek het dit sonder enige kwade bedoelings en in ’n oomblik van uiterste vreugde gedoen. Hier het ons dit as natuurlik en normaal beskou, maar dit het aan die buitekant ’n rumoer veroorsaak.
“Ek het geen ander keuse nie as om jammer te sê en hieruit te leer en versigtiger te wees wanneer ek die federasie verteenwoordig.”
Hy het verder die opskudding as “idioties” beskryf.
Sy verskoning het egter nie die herrie oor sy optrede laat bedaar nie en verskeie mense, onder wie regeringsamptenare, het sy bedanking geëis.
Hermoso het op haar beurt ’n video op Instagram gedeel van die feesvierings in die kleedkamer waarin sy in reaksie op haar spanmaats se geterg oor die soen gesê het: “Ek het nie daarvan gehou nie, sies!” terwyl sy gelag het.
Die RFEF het die Maandag ná die eindstryd sy eie verklaring uitgereik met aanhalings wat hy aan Hermoso toegeskryf het.
“Dit was ’n totale spontane en wedersydse gebaar vanweë die ongelooflike vreugde wat met ’n Wêreldbekersege gepaard gaan,” het sy volgens die RFEF gesê.
“Ek en die president het ’n baie goeie verhouding. Sy gedrag teenoor almal van ons is uitstekend en dit was ’n natuurlike gebaar van liefde en dankbaarheid.
“Ons kan nie so baie aandag skenk aan ’n gebaar van vriendskap en dankbaarheid nie, ons het die Wêreldbekertitel gewen en ons gaan nie afdwaal van wat belangrik is nie.”
Maar Hermoso het ‘n paar dae later ’n beroep gedoen dat “afskrikmaatreëls” op Rubiales toegepas word.
Die druk het op Rubiales toegeneem nadat Fifa met ’n tugproses teen hom begin het. Die onderskeie streeks-presidente van die RFEF het ook in Madrid ’n krisisvergadering gehou om Rubiales se toekoms en kandidate wat hom kan opvolg te bespreek.
Daar is daarna grootliks verwag dat Rubiales sou bedank, maar die sokkerbaas het geweier en volgehou dat die soen “wedersyds, eufories en konsensueel” was.
Hermoso het in ‘n nuwe verklaring gesê dat sy “nooit ingestem het” tot die soen op die mond nie en dat sy “kwesbaar en soos ’n slagoffer van aanranding” gevoel het.
Fifa, sokker se wêreldbeheerliggaam, het uiteindelik tot die saak toegetree en Rubiales voorlopig vir 90 dae geskors.
Meer as 80 Spaanse spelers, onder meer die ganse Wêreldbekergroep, het daarna begin staak totdat daar veranderinge aan die leierskap van die RFEF gemaak word.
Die RFEF se streekspresidente het toe ná ‘n noodvergadering Rubiales amptelik gevra om te bedank.
Hy het weer eens geweier.
Sake het vir Rubiales verder vererger toe sy ma, Angeles Bejar, ter ondersteuning van haar seun op ’n eetstaking gegaan het.
Sy het haarself uit protes in die Divina Pastora-kerk in die suidelike kusdorp Motril toegesluit, maar haar protes het nie lank geduur nie en sy is twee dae later na ’n hospitaal geneem nadat sy “moeg en gestres” gevoel het.
Spanje se sporthof het Vrydag ingestem om ondersoek te doen na Rubiales se ongevraagde soen.
“Ek sal aanhou om myself te verdedig om die waarheid te bewys,” het die sokkerbaas Vrydag gesê.
Pedro Sanchez, eerste minister van Spanje, het Saterdag gesê dat sy land se vrouesokkerspelers “vir die wêreld ‘n voorbeeld gestel het” deur op ‘n staking te gaan.
“Ons spelers het twee keer gewen: die eerste oorwinning was op die veld en nou hierdie les van gelykheid tussen mans en vroue,” het Sanchez gesê.
Die sokkerwêreld hou steeds asem op om te sien hoe hierdie petalje homself gaan uitspeel.