Sonnette Lombaard
Bykans vier dekades gelede het die Afrikanervolk die eer gehad om op die gesogte nuustydskrif Time se voorblad te pryk. Nie noodwendig ‘n vleiende illustrasie nie van die trio gesigte (twee mans en ‘n vrou) wat ons hele volkie op die voorblad moes verbeeld … fors, selfs stug het die skets veral die Afrikanervrou weergegee. Die opskrif daarmee saam was meer hoopvol en profeties. South Africa, Hints of Hope, Afrikaners Begin to Unbend was die boodskap wat na alle windrigtings gesein is.
Tyd wys dié uitgawe vanTime, Mei 1987, was voortydig op die regte spoor, want binne drie jaar het die winde van veranderinge opgesteek, deur ons land begin woed … het ons begin buig. Die weg moes immers berei word vir ‘n opwindende, nuwe hoofstuk vir ons skreiend-verdeelde nasie om onder een gedeelde reënboogsaambreel as gelykes sáám te kan koes.
Sport, ‘n oer-nasiebouer en geesopsteker onder alle volke, was gou in ratste luim. Toe Madiba saam met Francois Pienaar die Wêreldrugbybeker in 1995 op Ellispark triomfantelik lig, het toekomseuforie ons veelkleurige nasie einde laas verenig en trots saam dronk getiep. “Wêreld, kyk uit, hier kom ons bastervolk aangeriel!”
Bykans drie dekades later kleef slegs die bitter nasmaak van ‘n moerse babelaas oor ons destydse dronkdrome – dié wydbesonge veelkleurstrewe hang swart in flarde. Die pynlike duwwels en dorings wat sedertdien uitgegroei het, sorg vir donker nagmerries oor wat en waarheen volgende. Ook vir die Afrikanervolk.
Die huidige landsharwar laat jou wonder oor die groter weë – waarom moes volksvader Jan se drie skepies 371 jaar gelede na hierdie donker kontinent neuk? En dan verdomp, aan die Kaapse stormkus anker! Ons raak dan steeds verstrengel in die helse mengelmoes wat dit uitgespoel het. Wat nog van ontknoping en herbedrading, want die ingewikkelde uitskotte en naslepe hiervan bly die 21ste eeu in ons baas. Breër konsensus en oplossings onder ons as landburgers vir die geradbraakte gemors waarin ons land verstik, bly ons ontwyk. Die praat en lawaaie onder ons is baie, die daadwerlike verstaan en doen daarby ontbreek.
Bygesê, die Kaap is nie verniet ook die Kaap van Goeie Hoop gedoop nie. Hoop wat die menskind stu! Want hoewel die Afrikanervolk sukkel met saamstaan, deins ons g’n terug vir die onbekende nie. Ons hou van uitdagings, veral om vir die ander Janne, Piete en Sannies te wys ons kán. Die beterweterige Afrikanertong se luste vir afwys en ek-is-beter-as-jy, hang nog altyd lank uit.
Daarom het ons hier onder Afrika se bloedson fluks moue opgerol, begin ploeg. Onderweg, weliswaar moeiliker, maar noodgedwonge bly aanpas. Die drukpot het al geprut – die groter realiteite om ons en ook die buitewêreld wat ons luid as sondebok gekruisig het. Hoe durf ons sanksies omseil met blink wêreldprestasies en implimenteer ons aweregse politieke beleide met mag!
Blameer dit op die ontdekkingsgene wat ons hier geplant het, maar voorwaarts trek, ken ons van. In die gees van die dapper én wederstrewige Voortrekkers (onder mekaar) wat die Kaapse berge vir nuwes in die binneland verruil het, mik ons volk vorentoe. Die brawes, altans. Minus die bangbroeke wat onderweg hensop – die hasepadhollers wat vroeg handdoek ingegooi het en steeds vliegtuie volpak in die hoop om Afrika se berugte stof vir goed elders af te was. (Kán of durf jy hulle nog kwalik neem, wonder genoeg van ons ná dese?)
Want wat in die laaste dekade voor die eeu se draai as groot hoop vir ‘n blink nuwe toekoms vir almal gewink het, het intussen liederlik geduik, die volksmond galbitter versuur. Drie dekades later flikker al die rooi ligte – boonop beskaam die hoop, soms selfs die luste om nog te bodder. Te midde van donker dae en nagte met karige vooruitsigte om die gemors waarin ons land verkeer, tydig om te keer. Vóór alles tot niet is, tot in die grond verniel in die tuisgemaakte Afrika-styl. ‘n Vasteland propvol skatte, menslik en hulpbronne, gekelder deur bloeddorstige armoede en magsug, geldgier en wanorde. Waar die beproefde resep van rykdom bo, wyl die res krepeer, gedy, ook in ons agterplaas.
Hier sit ons nou, al la David Kramer, ‘n Afrikanervolkie arm uitgedun ná aanslae uit alle oorde. Deels te wyte aan ons eie gierigheid en hardkoppige selfsug om minstens as volk- en moedertaalgenote hande te vat. Ons eens geroemde leliewit-velle lankal inheems vermeng en verbaster (skaars 8% van 60 miljoen Suid-Afrikaners word nog as “blank” bestempel). Alleen kan ons hier g’n voorwaarts trek nie. Die getalle-oormag dwing ons om uit te reik, verby velkleur en net ons geliefde moedertaal.
Maar steeds stry en baklei ons voort, veral onder mekaar. Eerder hel toe, broers en susters, as dat ons saam sal kniel en mekaar ‘n sonplekkie gun. Verenig vloei eenmaal nie vry deur ons DNA nie. Hartseer, dit belemmer pogings om nog betyds ons basse te red.
Die nugtere, nare waarheid? Dis laat in die nag, twistende Afrikaner! Om nog tot jou sinne te kom. Vrede te kry oor ons lot en wankelplek, gedeel met biljoene Afrika-siele op ons vasteland. Die klok beier vir aantree. Bondgenote verby velkleur en ander heilige hindernisse te kry. Om as mede-pelgrims saam aan te sit, mekaar in die oë te kyk, te kan vergewe en met oorgawe daai braaibroodjie onderling te breek en te deel.
- “Quo vadis?” is ‘n Latynse uitdrukking wat beteken waarheen gaan jy? In die Bybel vra dissipel Petrus dit aan Jesus toe hy uit Rome gevlug het.
Baie mooi artikel