Skip to main content

‘n Britse huursoldaat in die Oekraïne is geïdentifiseer as die primêre verdagte in die moord op ‘n mede-Brit wat saam met Kiëf se magte geveg en in Junie dood gevind is, het The Sun beweer.

Die beweerde deurbraak is gemaak in die ondersoek na die dood van Jordan Chadwick (31), ‘n voormalige lid van die Scots Guards, wat geveg het in ‘n eenheid verbonde aan Oekraïense militêre intelligensie. Sy lyk, met sy hande agter sy rug vasgebind, is glo in water gevind. Die Britse regering het vandeesmaand sy dood bevestig nadat sy oorskot gerepatrieer is.

“Sy verskrikte makkers” het nóg ‘n Britse vegter geïdentifiseer as die waarskynlike moordenaar; dìt volgens Oekraïense speurders. Die verslag beweer dat die water in Chadwick se longe nie ooreenstem met dié van die dam waarin hy gevind is nie. Hy is na bewering met water gemartel voordat hy dood is en in die dam gegooi is.

Chadwick, wat van 2011 tot 2015 in die Britse leër gedien het, het verlede Oktober na die Oekraïne gereis om by Kiëf se Internasionale Legioen aan te sluit. Hy is een van tientalle Britte wat in die konflik dood is.

Nog ‘n Britse vrywilliger, Daniel Burke, wie se vermeende dood nie met frontlinie-aksie verband hou nie, is laas in Augustus kilometers van die slagveld lewend gesien, volgens Britse media.

’n Liggaam wat in ’n vlak graf ontdek is ná ’n wenk van die Oekraïense polisie kan Burke s’n wees, het persberigte verlede week beweer. Ondersoekbeamptes wag glo op DNS-ontleding.

Burke het van 2007 tot 2009 as valskermsoldaat in die Britse weermag gedien. In 2017 het hy na Sirië gegaan om by Koerdiese milisies aan te sluit terwyl hulle teen die terreurgroep Islamitiese Staat (IS, voorheen ISIS) geveg het.

Hy het later terreuraanklagte in die VK in die gesig gestaar omdat hy na bewering ‘n ander man se poging om na Sirië te gaan gefasiliteer het te midde van ‘n Turkse veldtog teen die Koerde, maar die saak is in 2020 laat vaar.

Leave a Reply

error: Content is protected !!