Skip to main content

Skeidsregters by die Wêreldbeker-rugbytoernooi dra hulle fluitjie om die regtergewrig, maar die linkerpols is kaal weens ‘n baie baie bisarre rede.

Die skeidsregters, die ouens wat die amptelike tydhouers in elke wedstryd is, dra nie horlosies nie want daar is ‘n voortdurende vete tussen die blasers en die Switserse horlosievervaardiger Tudor, berig die Nieu-Seelandse tegnologie-webwerf Stuff.

Tudor, Rolex se sustersmaatskappy, is die amptelike horlosieborg van die toernooi.

Die toutrekkery met Tudor dateer glo terug na die 2019 Rugby-Wêreldbeker. Tudor het aan elke skeidsregter ‘n Tudor Black Bay Chronograaf ter waarde van sowat ‘n kwartmiljoen rand gegee, maar een van hulle het blykbaar na die 2019-WB sy horlosie verkoop. Daar word gesê dit het Tudor woedend gemaak. Toe gee Tudor nie vir vanjaar se skeidsregters nuwe horlosies nie, en luidens die borgskapsooreenkoms mag hulle nie ander handelsmerke se produkte dra nie.

Hulle word klaarblyklik wel toegelaat om Garmin-horlosies – ‘n ou gunsteling onder wedstrydbeamptes – te dra, maar hulle verseg. Nou maak hulle maar staat op die stadionklok om te besluit wanneer om die eindfluitjie te blaas. Ironies genoeg word die stadionklok ook deur Tudor geborg.

Rugbybeamptes ontken dat hulle direk meegedeel is dat hulle hul Tudors nie kan verkoop nie.

Wêreldrugby het ‘n verklaring uitgereik waarin hulle die vete ontken. Hulle wys daarop dat die Black Bay ‘n luukse horlosie is wat glad nie vir take soos die van skeidsregters ontwerp is nie, maar die stories wil net nie wyk nie.

Die naweek in die wedstryd waarin Fiji die Aussies slae gegee het, kon duidelik gesien word dat Eddie Jones, die Wallabies se breier, ‘n Omega Speedmaster dra.

Jones is klaarblyklik ‘n groot horlosie-entoesias. Die Speedmaster is ‘n ikoniese horlosie wat deur Buzz Aldrin tydens die eerste maanlanding gedra is. Maar wat interessanter is, is dat Omega die grootste teenstander van Rolex, Tudor se moedermaatskappy, in die mededingende luukse Switserse horlosiemark is.

James Bond, byvoorbeeld, het jare lank Rolex-horlosies gedra, maar die afgelope dekades is dit wyd gepubliseer dat Bond nou ‘n Omega-man is.

Wat nogal interessant is, is dat daar heelwat foto’s van Jones op die internet is waar ‘n uurwerk wat kompleet soos ‘n Tudor Black Bay Chronograaf lyk, aan sy arm pryk.

Leave a Reply

error: Content is protected !!