Thomas Reuben Tivane (50) en Kenneth Mashego (50) is in die Mpumalanga-afdeling van die Hooggeregshof wat in Delmas sit, vandeesweek gevonnis vir ‘n plaasmoord en huisroof. Die misdade is in 2020 op ‘n plaas by Rietkol in Sundra gepleeg.
Die provinsiale kommissaris van die SAPD in Mpumalanga, luitenant-generaal Semakaleng Daphney Manamela, het die stewige vonnis verwelkom wat aan twee plaasmoordenaars opgelê is.
Die vonnisoplegging van die twee beskuldigdes wat van Etwatwa in die Gauteng provinsie afkomstig is, spruit uit ‘n voorval wat op 30 September 2020 plaasgevind het. Die hof het gehoor hoe die twee op daardie dag omstreeks 10h45 vir Chantel Kershaw (44) wat pas van die dorp af aangekom het, aangeval het.
Kershaw en ‘n werknemer, Themba Moses Masuku, was besig om toerusting wat gediens moes word, in ‘n wit Chevrolet-bakkie te laai toe hulle oorrompel is.
Masuku was deel van die georkestreerde plan wat op die plaas uitgevoer is, maar dit was onbekend ten tyde van die voorval. Masuku het gerapporteer dat hy besig was om die toerusting by die motorhuis uit te haal toe die twee beskuldigdes hom met ‘n vuurwapen aangehou het en hom gedwing het om sy broek uit te trek voordat hulle sy hande met die broek vasgebind het.
Volgens Masuku het hy gehoor hoe Kershaw skree maar later was dit stil en hy het nie geweet wat aan die gebeur was nie.
Die twee rowers is na die huis waar hulle in Kershaw se 65-jarige ma vasgeloop het. Hulle het haar met ‘n vuurwapen aangerand voordat hulle haar in een van die kamers toegesluit het.
Hulle het ook die 48-jarige huishulp in die badkamer toegesluit.
Die twee beskuldigdes het die huis geplunder en selfone sowel as tablette ter waarde van R10 000-00 gesteel.
Hulle het ook die Chevrolet-bakkie gesteel en van die toneel gevlug.
Ná hul vertrek het Kershaw se ma die buurtwag sowel as die polisie gekontak. ’n Jaagtog het ontstaan tussen die twee beskuldigdes, die buurtwag en die polisie.
Die rowers het beheer verloor oor die gesteelde bakkie en dit het op die R50-pad na Delmas gerol. Albei mans is gearresteer. Tydens hul inhegtenisneming is ‘n vuurwapen waarvan die reeksnommers afgevyl was, gevind.
Terug by die huis is Kershaw se half naakte liggaam gevind. Sy is met ‘n tou verwurg en is op die toneel deur paramedici dood verklaar.
Tydens die loop van die ondersoek is uitgevind dat die plaaswerknemer (Themba Moses Masuku) ‘n medepligtige in die plaasaanval was.
Masuku is gevolglik gearresteer en dienooreenkomstig aangekla. Hy het skuld beken en is in Maart vanjaar tot 20 jaar tronkstraf gevonnis.
Die ondersoekspan het onvermoeid in samewerking met die aanklaers gewerk om ‘n waterdigte saak teen die twee beskuldigdes op te stel.
Thomas Reuben Tivane is tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir moord en 20 jaar tronkstraf vir roof. Kenneth Mashego is ook lewenslange tronkstraf opgelê vir moord asook 15 jaar tronkstraf vir roof.
Manamela hoop dat die vonnis as afskrikmiddel vir plaasaanvallers sal dien. “Ons erken met baie waardering die uitsonderlike en uitstaande werk wat die buurtwag verrig het wat gelei het tot die vinnige arrestasie van die twee beskuldigdes. Ons bedank ook die ondersoekspan vir hul samewerkingspogings met ander belanghebbendes soos die Vervolgingspan en die Regbank wat uitgeloop het op hierdie enorme prestasie,” het Generaal Manamela gesê.