Skip to main content

SONNETTE LOMBAARD

Die goeie nuus vir die JV-vennote van Louis Liebenberg se maatskappye is dat die voorlopige likwidasiebevel teen Tariomix uiteindelik in die regte rigting beweeg. Dít nȧ twee frustrerende dae in die Hooggeregshof in Mahikeng wat telkens gedreig het om die hofsaak te ontspoor weens beurtkrag en twistende partye.

‘n Tevrede Walter Niedinger, regsverteenwoordiger vir Tariomix, het vanaand aan Die Waarheid bevestig dat daar eindelik lig in die donker tonnel is. Volgens hom is die kans gunstig dat die voortslepende likwidasiesaak teen November afgehandel sal wees.

Die hof in Mahikeng het vandag die saak hervat nadat dit Donderdag vroeg moes verdaag toe die langverwagte keerdatumverhoor deur beurtkrag gefnuik is.

Waarnemende regter Mark Morgan het egter reeds Donderdag sy dringendheid ten opsigte die saak getoon met sy besluit om dit verder op die grondslag van ‘n geregtelike saakbestuur te hanteer. Dit was nadat nog nuwe partye aangedui het dat hulle tot die omstrede saak wil toetree. Die aansoeke is nog nie goedgekeur nie.

Tariomix is op 23 Februarie voorlopig in die hof in Mahikeng gelikwideer.

Morgan het met die hervatting van die saak vandag gou sy stem weer dik gemaak en beslis dat die baie partye vooraf met mekaar moet onderhandel oor ‘n roetekaart met ‘n tydlyn vorentoe. Niedinger, wat Tariomix verteenwoordig, word gesteun deur Sars asook die twee oorspronklike applikante wat intussen hulle aansoek vir likwidasie teruggetrek het.

Intussen het nog tien nuwe partye aansoek gedoen om tot die saak toe te tree in die voorlopige likwidateurs se kraal, maar is nog nie toegelaat om dit te doen nie. Niedinger benadruk die feit dat die likwidateurs nie ‘n party in hierdie saak is nie, en met blote segspersoonstatus die nuwe applikante vir hul saak benodig.

Al die nuwe voornemende toetreders het daartoe gelei dat die saak reeds ‘n berg dokumente behels.

Niedinger sê hoewel die hof vandag nie op die meriete van elke party se saak ingegaan het nie, is vaste tydperke nog vir vandeesmaand gereël waarbinne die partye nou sekere dokumente en betoë vooraf onder mekaar moet verwissel en uitklaar.

Intussen het Sars ook aangedui dat hy ‘n verdere verklaring by die hof gaan indien waarin hy sy aangestelde kurator bonis se vroeë bevindinge oor Tariomix wil wysig.

Dit word vertolk as positief vir Liebenberg se deurlopende pogings om te wys dat sy besigheid bo verdenking is. Die beleërde diamanthandelaar en mynbaas baklei terug en beveg die voorlopige hofbevel teen Tariomix om te wys die maatskappy is nié insolvent nie.

“Die regter het dit vandag duidelik gemaak dat sy beslissings ten doel het om alle speletjies in hierdie saak nou vir eens en altyd te stop en dat hy dit tot ‘n punt wil bring,” sê Niedinger.

Daarvolgens sal die saak op 13 en 14 November hervat word. Regter Morgan het ook besluit om met die hervatting van die saak op 13 November eers die tegniese punte aan te hoor, voordat hy op elke klaer se meriete sal ingaan.

Boonop sal Niedinger se betoog dat daar nie meer ‘n likwidasiesaak kán wees nie nadat die twee oorspronklike applikante onttrek het, op 13 November heel eerste aan die beurt kom.

“Dis baie positief vir ons, want as hy hieroor in ons guns beslis, kan die voorlopige likwidasiebevelsaak nie voortgaan nie.”

Niedinger is verheug dat die voortslepende saak eindelik ‘n toegewyde regter het wat dit duidelik tot ‘n kant wil bring. “Met berge vol dokumente wat deurgewerk moet word, sal dit hom ‘n ruk neem om alles te lees. Sy verklaarde voorneme om dit enduit vaster te bestuur en ‘n bevinding te maak, baat alle partye.”

“Daar is dus uiteindelik ‘n regter met ‘n goeie oor wat na die saak kan luister. Dat hy dit prakties enduit wil bestuur en ‘n dringende ingsteldheid het, beteken hy moet sy volle aandag daaraan wy. Hy doen dit duidelik reeds.”

Morgan het dit oor die twee dae vandeesweek duidelik aan al die partye gemaak dat die tydperke vir vooraf-beraadslaging vas is en stiptelik nagekom moet word. Hy het ook te kenne te gee dat hy nie goedsmoeds nóg partye by die saak sal toelaat om die tydlyn verder te ontwrig nie.

Liebenberg het ‘n beroep op JV-vennote gedoen om geduldig te wees, want die einde aan Tariomix se voorlopige likwidasie is nou eindelik in sig. “Die vertragings is veroorsaak deur die nuwe applikante.”

Die regter het ook beslis dat die uitstel van die voorlopige likwidasieverhoor ingevolge die wet in twee Sondagkoerante gepubliseer moet word.

2 Comments

Leave a Reply

error: Content is protected !!