Skip to main content

SONJA BROWN

Sestig tik-takke. Dis min of meer hoe lank dit geneem het om ‘n lewe te verwoes. Om pyn toe te dien. Om ‘n persoon se menswees van alle selfvertroue te stroop. Om onsigbare angsvingers deurgaans om ‘n keel te voel.

In daardie kort tydjie het ‘n vrou om selfbehoud geveg, verbete geklou aan dit wat hare was. Niks minder as wettig en reg nie. Sestig tik-takke.

Vertel dit vir die drie fokkers wat goedsmoeds langs haar voertuig stilgehou het in ‘n donkerbou VW Polo, drie vuurwapens op haar gerig het, en doodluiters gesê het: “Give me your stuff!”

Sy onthou nie veel van die vinnige, gewelddadige roof nie, maar volgens die ou vrou met borskanker wat agter haar kleinkhekkie van die geskreeu bewus geword het, het sypaadjie-vrou verbete aan haar handsak en skootrekenaar geklou. Sy het ook haar kar se sleutel oor die kanker-vrou se heining probeer gooi, maar dit het in die lemmetjiesdraad vasgehaak.

Die kanker-vrou het gesien hoe ‘n pistool teen die sypaadjie-vrou se kop gedruk word … tussen haar oë … nadat sy ‘n klomp keer in die ribbes geskop is deur die diewe. Haar enkel was ook hardhandig vasgetrap toe sy na die diewe probeer skop het.

Die sypaadjie-vrou is só hard geskop dat sy haarself natgemaak het.

En die borskanker-vrou wou heldhaftig voor die geroofde voertuig inspring sodat dit nie gesteel word nie.

Adrenalien neem ‘n mens-in-skok se liggaam oor. Daardie mens voel niks vir die eerste vyftien minute of wat na die aanval nie. Al waarvan die sypaadjie-vrou bewus was, was dat sy haar opsporingsmaatskappy moet laat weet dat haar kar gesteel is. Maar sy kon nie haar eie ma of kinders se foonnommers onthou nie. Ook geen kollegas se nommers nie.

Gelukkig het die kanker-vrou uitgehelp en die sypaadjie-vrou se ma se nommer op haar foon gehad. Dié het die geskokte sypaadjie-vrou se ma gebel, wat weer op háár beurt sypaadjie-vrou se kinders en haar suster gebel het. Laasgenoemde was binne 15 minute op die toneel.

Die polisie en buurtwag was vinnig daar. So ook sypaadjie-vrou se oudste dogter. En kort voor lank ‘n ambulans. Sypaadjie-vrou moes hospitaal toe want sy het gekrul van die pyn.

Drie fokkers het ‘n aardse goed, tydelike goed, gesteel, maar die impak van die gebeurtenis sal blywend wees. Net die hemele alleen weet vir hoe lank.

“Jy kan gelukkig wees jy lewe,” het hordes vir sypaadjie-vrou gesê.

“Wel, fok julle almal,” wil sypaadjie-vrou in hul gesigte gil. “ ‘n Bietjie van my is dood daar op die sypaadjie … daar waar my ribbes geskop is en my aardse goed gesteel is. Die missie om alles wat in plek was, te vervang … lisensie, bankkaarte, selfone … skootrekenaar wat so nuut is dat dit nog nie eers verseker is nie …  Duur oorfone. I-pad. Elke keer as ek iets simpels soos ‘n bril-lappie uit my handsak wil haal, dan onthou ek dat dit gesteel is. Die bitterheid se kooltjie brand helderrooi in my pynlike borskas.

“Ek verwens die drie wat my besteel het. Elke keer wat ek my kruk optel, haat ek hulle net ‘n bietjie meer. Ja, praat maar van terapie ondergaan. Ek is nie so seker dat dit my vinnig gaan help nie. Hoekom ek, iemand wat altyd baklei vir reg en geregtigheid. Wat ‘n probleem het met mense wat steel en lieg?

“Elke keer wat ek snak na asem wanneer ek in die bed omdraai, of moet opstaan uit ‘n sittende posisie, wil ek wraak neem. My kop sê ‘fok die wet van oorsaak en gevolg’; ‘n universele wet wat spesifiek bepaal dat elke enkele aksie in die heelal ‘n reaksie produseer, maak nie saak wat nie. Of soos die Bybelmense sê: hulle sal maai wat hulle saai.”

“Jy sê mos jy het in drie jaar nie ‘n dag se verlof gehad nie,” sê iemand vir sypaadjie-vrou. “Dalk is dit die heelal se manier om te sorg dat jy rus.”

“Rus se moer. Hoe kan ‘n mens rus as jou kop besig moet bly om nie weer die gebeure mee te maak nie? Hoe kan ‘n mens rus as jy heeltyd bewus is van verlies? As dit voel of jy geestelik verkrag is? As jy verby woedend is en die word ‘moerig’ tekortskiet om dìt wat jy voel te beskryf? Ek werk elke wakker oomblik, en drink dan ‘n paar pynpille wat my laat slaap totdat pyn my weer wakker maak. En dan werk ek voort todat ek weer pille drink.”

Byna twee weke na die gewapende roof is daar geen kommunikasie van die polisie nie. Daar is wel vingerafdrukke in sypaadjie-vrou se kar, maar ‘dit is nie op die sisteem nie’. Sypaadjie-vrou gaan sonder haar kar wees tot die 22ste. Die rooftog was op die vierde.

Soms wens sypaadjie-vrou dat sy haar pistool aan haar gehad het. Dinge kon dalk anders verloop het…

Ék … ék is daardie sypaadjie-vrou.

Leave a Reply

error: Content is protected !!