Die provinsiale kommissaris van die SAPD in Mpumalanga, luitenant-generaal Semakaleng Daphney Manamela, het die arrestasie van ‘n vermeende rower (36) Dinsdag by Kanyamazane buite Nelspruit verwelkom. Die verdagte is vermoedelik agter die ontvoering en roof van ’n VSA egpaar, (47) en (39) terwyl hulle op 7 September op pad na die Krugerwildtuin was.
‘n Span bestaande uit die Mpumalanga Provinsiale Opsporingspan van die SAPD, in samewerking met die Federale Buro vir Ondersoek (FBI) van die VSA, Kwa-Mhlanga Openbare Orde Polisiëring, Kwaggafontein lede, Witrivier K9 Eenheid en Magma-ondersoek het die verdagte aangekeer.
Luidens ’n berig het die twee toeriste op daardie dag op die R536-pad in die Calcutta-omgewing gery toe hulle deur ’n VW Golf met ’n blou lig voorgekeer is.
Die slagoffers is toe met ‘n vuurwapen aangehou deur twee gewapende verdagtes wat hulle ontvoer en van hul persoonlike items beroof het. Hulle is toe deur die verdagtes, wat met die gesteelde items gevlug het, losgelaat.
Die slagoffers is later gehelp om Masoyi-polisiestasie te bereik waar ‘n saak aanhangig gemaak is. Die ondersoek het dadelik begin met die hoop om diegene wat verantwoordelik was in hegtenis te neem. Tydens die ondersoek is waardevolle inligting ontvang deur middel van tegnologie deur die FBI verskaf oor waar sommige van die gesteelde items was.
Die span is na ‘n huis by Kanyamazane gelei.
Met aankoms by die perseel het die span op een van die rowers afgekom en daar is beslag gelê op ‘n HP iphone-skootrekenaar, twee iPads, iPhone-slimpolshorlosie, ‘n skootrekenaar, twee stelle verkykers, ‘n 16-kanaal sein-blok-apparaat, sowel as ‘n blou lig. Die span het ook ‘n VW Polo ontdek wat glo met vals registrasienommerplate toegerus is.
Die man is gearresteer en aangekla vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendomme. Die verdagte het reeds in die Kanyamazane-landdroshof verskyn op die genoemde aanklagte. Die saak is tot 19 September vir verdere ondersoek uitgestel, terwyl die verdagte in aanhouding bly.
Die ondersoek duur voort, maar weens die sensitiewe aard van hierdie ondersoek kan sy naam nie in hierdie stadium bekend gemaak word nie.