Skip to main content

Die likwidasiesaak van die diamantmagnaat en -mynbaas Louis Liebenberg se Tariomix is vanoggend in die Hooggeregshof in Mahikeng tot môre uitgestel.

Net hoe kompleks die saak geraak het, kan duidelik gesien word uit die groot aantal regslui – 14 – wat vandag in die hof was.

Tariomix is verteenwoordig deur ‘n senior sowel as ‘n junior advokaat, asook ‘n prokureur. Die oorspronklike applikante vir likwidasie, Ruan Botes en Jeandré Viljoen, is verteenwoordig deur ‘n advokaat, terwyl twee advokate, ‘n prokureur en ‘n amptenaar van SARS die belastinggaarder verteenwoordig het.

Vir die tien mense wat aansoek doen om toe te tree tot die geding as partye ten gunste van likwidasie, was daar twee regspanne, wat uit altesame drie advokate en twee prokureurs bestaan het.

Die likwidateurs is verteenwoordig deur die bekende adv. Johann Hershensohn, terwyl een van die likwidateurs, Vaughn Victor, self ‘n advokaat is.

Waarnemende Regter Mark Morgan het aangekondig dat hy die saak-hanteerder is en het gesê hy sal die saak behartig tot die einde.

Hy het afgeskop met sogenaamde huishouding – ‘n noodsaaklike proses in gevalle soos hierdie waar die hof toegegooi is met papiere. Die aansoek van die tien partye het nog 700 bladsye tot die hofstukke gevoeg, wat beteken dat daar berge papier in die hof rondvlieg.

Die hof het met die partye gedebatteer oor waar daar met die saak begin moet word, maar daardie argumente is nooit klaargemaak nie want die krag het 12:00 afgegaan. Volgens regter Morgan is daar beurtkrag van 12 tot 4.

Regter Morgan het gesê die kragopwekker is gebreek en die Departement van Openbare Werke doen niks daaraan nie. Hy het geskerts dat joernaliste dit moet publiseer sodat die probleem opgelos kan word voordat hy die saak laat afstaan het tot môre-oggend 10:00, want die hof kan nie sit sonder elektrisiteit nie.

In die tussentyd moet al die partye die tyd gebruik om ‘n voorstel voor te berei oor hoe hy die volgorde van en manier waarop sake aangehoor moet word, moet hanteer.

Tariomix is ten gunste daarvan dat die aansoek van die oorspronklike applikante eers verwerk word. “Dis ‘n regstegniese argument; die applikante het hulle saak reeds teruggetrek. Die voorlopige bevel moet nou opgehef word,” sê Walter Niedinger, Tariomix se prokureur.

“Daar is tien applikante wat wil toetree. Drie van hulle se aansoeke is eers gistermiddag aan ons beteken. Al die applikante se aansoeke is nog nie verwerk nie en kan nog nie aangehoor word nie. Daaroor stem die partye saam,” het Niedinger aan Die Waarheid gesê.

Hy glo vas die aansoeke is ‘n poging om die saak te vertraag. “Hulle probeer ‘n dooie perd opsaal. Al die applikante se aansoeke is gebring nadat die saak teruggetrek is. Dit is ons argument, maar die likwidateurs hou nie van die argument nie.”

Hierdie applikante wat wil toetree se aansoeke is nog nie formeel na 13 November uitgestel nie. Dit is nog slegs ‘n tentatiewe datum wat vasgemaak is sou die hof dan môre so besluit.

SARS bring weer ‘n aansoek om die kurator bonis se verslag te korrigeer.

“Dit is in die regter se hande. Hy sal môre die argumente van die partye aanhoor en ‘n besluit maak. Ek dink hy volg ‘n praktiese benadering, want daar is ‘n absolute berg van papier,” het Niedinger gesê.

One Comment

Leave a Reply

error: Content is protected !!