Skip to main content

Isaac Cloete

Die groot Namakwa Daisy Music Festival is afgestel tot later.

Hierdie nuus het die groot getal musiekliefhebbers en blommekykers Dinsdag onverwags begroet. Dit, nadat een van die organiseerders van die fees, Clarrisa Carsten, Dinsdag ‘n amptelike verklaring oor die afstellery uitgereik het.

Dit sou een van die grootste feeste van sy soort in die Namakwalandstreek wees. Een waarna die gemiddelde uitgehongerde musiekliefhebber en natuurmens, veral plaaslik, uitgesien het.

Bekende nasionale kunstenaars en huishoudelike name soos PJ Powers, Jonathan Rubain, Earnie Smith, Vuvu Kumalo, Jeodhouse en Alistair Izobell was op die spyskaart. Verder sou daar ‘n biertuin, kosstalletjies, wynproeëry, ens, gewees het.

Dit was veronderstel om ‘n opelugfees te wees met ‘n toe dak oor die verhoog. Feesgangers kon vooraf kampeerplekke bespreek en hier oornag.

Die pakkette het gewissel van R6 000-R13 000 vir ses persone oor die drie dae. Dagbesoekers sou R200 moes opdok, maar kaartjies kon vooraf bekom word op die webwerf.

Reeds vanaf April het Izobell, die ander die hoof-organiseerder van die fees, dit op sosiale platvorms begin adverteer. Dit sou op 22 September tot 24 September by die Springbok-gasteplaas plaasgevind het.

Izobell van Kaapstad, is ‘n bekende funkie-organiseerder in die musiekbedryf.

Carsten, ook eienaar van die Springbok gasteplaas, was uiteraard baie teleurgesteld en het gesê dat die fees baie belangsteling ontlok het. Baie is nou teleurgesteld, terwyl ander die omstandighede vir die afstel maklik aanvaar het.

Volgens haar wou hulle iets meer na die area bring sodat blommekykers van elders ook iets anders kon doen terwyl hulle die area besoek het. Hulle het ‘n paar duisend mense verwag.

“Ons het redelik uitgawes gehad wat hanteerbaar is. Maar mense moet verstaan dat uitgawes van byvoorbeeld klank, die verhoog, ens baie geld kos. Ons borge en befonders sal volgende jaar in staat wees om in die nuwe finansiële boekjaar ons te ondersteun.”

Intussen voel plaaslike inwoners en kunstenaars dat die kaartjies of toegang meer bekostigbaar gemaak moet word. Verder hoop hulle dat die pakkette meer “toegankliker” gemaak kan word om die gewone persoon te akkommodeer. Blykbaar was die bemarking ook nie heeltemal na wense nie.

Avron Thomas, direktereur van sport, kuns en kultuur op Springbok het gesê dat die fees net tydelik uitgestel was. Dit sal voortgaan as genoeg fondse beskikbaar word.

“Ons wil ‘n ordentlike en volhoubare fees hou wat vir jare sal voortbestaan.”

Die organiseerders is tans besig om die gelde terug te betaal aan mense wat vooraf bespreek het, volgens Carsten.

 

 

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!