Skip to main content

Die hel is los oor die nuwe turkoois rugbytruie wat as die Springbokke se alternatiewe trui tydens die wêreldbeker in Frankryk diens doen.

Lesers van Die Waarheid is uitgesproke oor die turkoois uitrusting – hulle hou nie daarvan nie, en basta!

Die idee agter die nuwe truie is edel. 6 September is Wêreldkleurblindheidsbewustheidsdag, en Wêreldrugby – in ‘n poging om die spel meer inklusief te maak – het gesê vir die 2023 Rugbywêreldbekertoernooi het hulle nou saamgewerk met die deelnemende rugbyunies en Colour Blind Awareness (CBA) om sekere uitrustings aan te moedig.

Truie met kleure wat te soortgelyk vir kleurblinde mense lyk as gevolg van ‘n gebrek aan voldoende kleurkontras, moes aangepas word.

‘n Voorbeeld van ‘n botsende uitrustingskleur sou wees wanneer Portugal Wallis op 16 September in ‘n Groep C-wedstryd in Nice pak, waar die Walliese alternatiewe uitrusting (swart) met Portugal se primêre uitrusting (donkerrooi) sou gebots het.

Maar ons lesers is nie so seker nie. Die Springbokke het tradisioneel ‘n spierwit alternatiewe trui, wat sekerlik nie met donkerder kleure sou bots nie. Baie van die spanne by die Wêreldbeker het wit alternatiewe truie, insluitende die All Blacks, Frankryk en Ierland. Die wit Bok-trui dra lesers se goedkeuring weg, terwyl hulle die kleur van die nuwe trui vergelyk met die uitrustings van ‘n supermarkgroep se afleweringsbromponiebestuurders.

“Dis afskuwelik lelik en daar is baie alternatiewe,” sê Dawid Roux, ‘n fotograaf van Johannesburg. “Soos die wit trui. Maar dis nie n big deal nie. Ek is meer bekommerd oor die feit dat ons nie ‘n skopper het nie. Waar sal ons hulp vandaan kom? Ons speel juis op die oomblik so goed.”

‘n Leser van Pretoria sê: “Ek dink dit lyk verskriklik! Hulle lyk soos sissies. Wat het van ons Groen en Goud geword? Kon hulle nie ‘n beter kleur gekies as daardie turkoois nie? Miskien het dit vir ons geluk gebring. Ons sal maar moet sien.”

Lenie Lotriet van Melkbosstrand sê sy kan nie glo dat hulle die Bokke se truie verander het nie. “Dit lyk behoorlik soos Pamper-doeke. Dis te sag vir ons geharde spelers. Bring terug die Groen en Goud!”

Adele Strauss, ook van Melkbos, sê hulle krap nou definitief waar dit nie jeuk nie. Ek haat die turkoois truie. Hulle moet die Groen en Goue truie terugbring.”

Adriëtte Coertzen van Danabaai hou ook nie van die nuwe truie nie. “Watter rugbyspan? Dit het meer gelyk na ‘n gesinchroniseerde swemspan. Geen mens het tot nou ‘n probleem gehad met die Groen en Goud nie.

“Die tuisskare het die ou Springboktruie gedra vir die wedstryd. Dit het dus gelyk of ons as ondersteuners nie weet wie ons ondersteun nie. Ons span was dan nie eers naby die veld nie.

“So kleurblind kan niemand ook wees nie – sulke aaklige truie vir, as ek reg verstaan, 4% wat kleurblind is. Sjoe, leer dan maar die spelers se gesigte en gedrag op die veld ken.”

Christelle Badenhorst van Harbeespoort sê dit lyk of dit ‘n skool- of Curriebekerspan se truie moes wees met die blokkies. “Dit lyk nie vir my professioneel nie, dit is bietjie bont. Ek persoonlik hou nie daarvan nie, maar ek verstaan die kleurblind-ding.

“Turkoois is ‘n baie mooi kleur, maar in hierdie konteks werk dit nie so goed nie. Dis ‘n moeilike pil om te sluk, mens is maar gewoond aan die Groen en die Goud. Maar dis uiteindelik nie die klere wat die span maak nie, dis die spelers. Wat mens wil sien, is die wen, maar dis maar moeilik vir die oog om hulle in daai klere op die veld te sien rondhardloop.”

John Smith, die oud-Springbokkaptein en leier van die Boktrop wat in 2007 die Web Ellis-beker gelig het, stem met ons lesers saam.

Na die Bok-sege Sondag oor die Skotte, het hy op X (voorheen Twitter) geskryf: “Goeie begin, Bokke, maar ek kan steeds nie daai trui hanteer nie.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!