Skip to main content

Daar is baie debat oor die elemente wat jy nodig het om die rugby-wêreldbeker te wen. Maar die meeste kenners stem saam oor die een ding wat onontbeerlik is as jy die kroon vir die volgende vier jaar wil dra: jy kan nie speel sonder ‘n losskakel met daai X-faktor nie.

Die man in die nommer 10-trui is die mees sigbare speler op die veld. Hy word ewe stip van sitplekke op die pawiljoen en rusbanke voor televisiestelle regoor die banke wêreld dopgehou. Honderde TV-geselsprogramme en podcasts, tydskrifartikels en koerantberigte dissekteer hierdie spilpunt van die span se strategie tot op die been. Wat die generaal in die middel van die veld se werk meer as net ‘n klein bietjie senutergend maak…

Hy moet uitstekend uit die hand kan skop – lynskoppe, steekskoppies, die skop wat hemel toe gestuur word… En verkieslik moet hy ook ‘n briljante stelskopper wees, al is daar spanne soos Frankryk, een van die gunstelinge, wat nie hulle losskakel laat skop nie. Die taak word oorgelaat aan Thomas Ramos, waarskynlik die beste stelskopper in wêreldrugby.

Hy moet rugby-intelligensie hê en die spel in ‘n breukdeel van ‘n sekonde kan opsom en die regte besluit neem: skop lyn toe, skop verdedigend, skop aanvallend, hardloop met daai eier onder jou blad, gee uit…

‘n Swak losskakel kan ‘n paar torpedo’s deur die romp van jou veldtog stuur. Om dit in eenvoudige taal op te som: goeie losskakel, goeie kans. Swak losskakel, swak kans.

By vanjaar se wêreldbeker sit ons met van die heel beste losskakels wat die trui in die geskiedenis van die spel gedra het. Die nommer 10-sterre sluit in:

Richie Mo’unga – Nieu-Seeland

Ouderdom: 29 Toetse: 49

Mo’unga speel in sy tweede Wêreldbeker as die All Blacks se eerstekeuse-losskakel.

Die 29-jarige is ‘n spelskepper soos min, hy is ‘n uitstekende stelskopper, verdedig uitstekend en kan sy agterlyn oordeelkundig wegstuur om behoorlik die All Black-angel te wys.

Hy speel die spel blitsig, maar hy is een van daardie rare mense wat lyk of hy altyd hope tyd het. Hy het nie ‘n groot kop nie en hy skitter in die kollig in groot wedstryde.

Dit is een van die voorste losskakels in die spel en min kan saamgesels – ons sien dit duidelik in die feit dat die briljante Beauden Barrett heelagter toe geskuif is om vir hom plek te maak.

Die veteraan-omroeper Niekie van den Berg sê Mo’unga het in die All Blacks se verloorwedstryd teen Frankryk beslis nie na die speler gelyk wat hy is nie. Hy was doodstil, maar dit sal dwaas wees om hom af te skryf.

Matthieu Jalibert – Frankryk

Ouderdom: 24 Toetse: 26

Die jong Jalibert kry sy kans danksy ‘n kniebesering aan die Hane se staatmaker-losskakel, Romain Ntamack. Ntamack, die seun van die beroemde Franse speler Emile Ntamack, is ook net 24 en in eie reg ‘n wêreldklas-losskakel, maar as die Franse die beker die jaar kan wen, gaan Jalibert moeilik gelig word.

Hy moes nog altyd tweede viool teen Ntamack speel, maar hierdie is sy groot geleentheid in die kollig.

Niekie sê: “Ek sou Ntamack graag teen die bestes in die wêreld wou sien, maar hierdie is Jalibert se groot geleentheid. Met Ramos daar, hoef hy hom nie oor stelskoppe te bekommer nie. Ramos het teen die All Blacks gewys net hoe belangrik ‘n goeie stelskopper is. Soos in vorige WBs gaan stelskopwerk die verskil tussen wen en verloor beteken, en Ramos is die heel beste van alle skoppers in die toernooi. Hy is so dodelik akkuraat, net in ‘n klas van sy eie.”

Paolo Garbisi – Italië

Ouderdom: 23 Toetse: 27

Italië gee die toplande in die wêreld kwalik slapelose nagte, maar min sal stry of Garbisi ‘n topgehaltespeler is.

Sedert hy Montpellier toe verhuis het vir sy wedstryde in die Top14, het Garbisi sy skop- en hardloopspel ontwikkel om een van die mees talentvolle losskakels in internasionale rugby te word.

Hy is nie bang om kanse te waag nie en is ‘n absolute skerpskutter met sy skopvoet. Hierdie mannetjie het oorloop-emmers vol talent.

Tiaan Swanepoel – Namibië

Ouderdom: 27 Toetse: 3

Die 27-jarige het vanjaar in drie opwarmwedstryde vir Namibië in die beginvyftiental uitgedraf. Dit lyk in hierdie stadium of die aspoestertjie-rugbyland se losskakel pure talent is.

Swanepoel het in die Verenigde Rugbykampioenskap vir die Leeus gespeel en op losskakel teen die Bulle en Stormers begin.

Swanepoel het nou nodig om sy ambag by een van die groot internasionale klubs te slyp, en die kennis en ervaring wat hy daar opdoen, kom terugploeg in Namibiese rugby.

Niekie sê: “Dis ‘n lekker losskakeltjie daai!”

Manie Libbok – Suid-Afrika

Ouderdom: 26 Toetse: 9

Libbok (26) is in dieselfde bootjie as Jalibert. ‘n Besering aan Handré Pollard, een van die spilpunte in die Springbokke se 2019 veldtog het vir hom die deur oopgemaak.

Libbok is meer van ‘n klassieke hardlopende losskakel en het daai ontwykende x-faktor, maar sy wisselvallige stelskopwerk weerhou hom op die oomblik nog daarvan om ‘n werklik grote te word. En daar is nog heelwat onbeantwoorde vrae oor hoe koelkop hy onder groot druk kan bly.

Niekie sê: “Libbok het Sondag goed gespeel, goed versprei, maar sy skopvoet bly onder verdenking.”

Johnny Sexton – Ierland

Ouderdom: 38 Toetse: 113

Sexton, die mees ervare losskakel by die Wêreldbekertoernooi, sal Ierland op die ouderdom van 38 in Frankryk aanvoer. Hy het sedert Ierland se Grand Slam-oorwinning oor Engeland in Maart nie gespeel nie, weens ‘n besering en ‘n skorsing van drie wedstryde weens wangedrag teenoor wedstrydbeamptes ná Leinster se eindstryd in die Heinekenbeker teen La Rochelle in Mei.

In wat sy vierde en laaste Wêreldbeker-toernooi sal wees, bly Sexton ‘n sleutelspeler vir die wêreld se voorste span, met sy wedstrydskerpte die enigste moontlike bekommernis. Hy is dalk nie meer so vinnig soos voorheen nie, maar sy besluitnemingsvaardighede is uitnemend.

Niekie sê: “Johnny Sexton het Saterdag sy natuurlike spel gespeel. Ek het sy eerste toets op Landsdown Road uitgesaai en volg hom sedertdien. Sy skopwerk is goed, hy doen alles reg. Hy het daai gravitas as kaptein. Dit is vir my die volmaakte losskakel.

“Hy het grootgeword in die skadu van Rowan O’Gara en het die lesse wat hy by O’Gara geleer het, ter harte geneem.

“Sexton het maande nie gespeel nie, maar hy lyk skerp.”

Finn Russell – Skotland

Ouderdom: 30 Toetse: 72

Russell (30) is goed in toom gehou in Skotland se openingswedstryd teen die Springbokke, maar die ervare Skot is een van die heel beste losskakels in internasionale rugby.

Hy het die Skotte aangevoer in hul opwarmingssege oor Frankryk op Murrayfield.

Bekend vir sy kort skopspel en lang oorslaan-aangeë, het Russell die afgelope paar jaar sy spel geskaaf om ‘n absolute toonvenster van losskakelspel te word. Slim, slim, slim.

Hy maak foute – soms baie. Maar op sy beste lees hy die spel uitstekend en hy is ‘n baie beter stelskopper as waarvoor hy krediet kry.

Niekie sê: “Russel is ‘n uitstekende speler, maar Sondag in Marseilles het Mostert hom vroeg gerattle. Hulle het dit hele wedstryd gedoen – die Bokverdedigers het hom nie toegelaat om sy eie spel te speel nie. Hy het ver agter die voordeellyn gespeel en kon min uitrig.

“Die Bokke se verdediging het die Skotte soos ‘n doodgewone span laat lyk – maar dis g’n hierjy span nie. Om dit te doen, verg besondere verdediging, maar ek is net bang hulle opskietverdediging maak hulle kwesbaar teen ‘n losskakel met goeie steekskoppies.”

Dan Biggar – Wallis

Ouderdom: 33 Toetse: 109

Die ervare Biggar (33) het aangekondig dat hy ná die Wêreldbeker-toernooi uit internasionale rugby sal tree.

Dit is sy derde wêreldbeker en hy sal al sy ervaring Frankryk toe bring vir ‘n laaste supervertoning. In Wallis se openingswedstryd teen Fiji het Biggar die wenkbroue laat lig deur op die ervare senter George North te skree, wat hom gebrandmerk het as ‘n bietjie van ‘n onbeskofte prima donna, maar daar is min twyfel dat hy ‘n absolute topspeler is.

Mens is nooit seker of Biggar ‘n generaal in die agterlyn is of bloot ‘n grootbek-korporaal nie, maar een ding is seker – hy sal veg tot die einde toe en nooit moed opgee nie. Dan Biggar is daai skeepskaptein wat op die dek staan terwyl die skip sink en al die matrose reeds op die reddingsbootjies vort is.

Niekie sê: “Biggar is briljant – hy het dit al oor en oor regdeur Europa en oral waar rugby in die wêreld gespeel word bewys.”

Carter Gordon – Australië

Ouderdom: 22 Toetse: 5

Australië se afrigter, Eddie Jones, het die ervare losskakels Quade Cooper en Bernard Foley by die huis gelos, en die nuweling Gordon as sy enigste nommer 10 vir die pronkstuk in Frankryk gekies.

Gordon is nie veel van ‘n stelskopper nie – voor die wereldbeker het nog nie een punt met sy skopvoet aangeteken nie – maar dit pla die Wallabies tradisioneel min. Hulle skroom nie om spelers in ander posisies te laat skop nie. Een van hul beste skoppers die afgelope dekades is immers die slot John Eales!

Maar Gordon het ‘n aptyt vir die doellyn, wat hom nog ‘n superster in die Australiese herbouproses kan maak. Hy is sterk, vlugvoetig met toweragtige dartellopies en sy algemene skopwerk, hetsy dit taktiese skoppe of lang lynskoppe is, is skitterend. En hy is ‘n uitsonderlike verdediger.

Niekie sê: “Eddie Jones sal tevrede wees, veral as mens in gedagte hou dis ‘n nuwe, jong span waarin Gordon speel. Ek sien ‘n nuwe huppel in Wallaby-rugby.”

Owen Farrell en George Ford – Engeland

Ouderdom: 31 Toetse: 107

Die omstrede Farrell het baie haters in die res van die wêreld. Hy loop juis Engeland se eerste twee poelwedstryde mis nadat hy geskors is vir ‘n hoogvat teen Wallis.

Farrell is in alle opsigte briljant, maar hy weet hoe om mense om te krap. In sy afwesigheid het George Ford (30 jaar oud, 86 toetse) die Engelse se eerste poelwedstryd teen Argentinië man-alleen gewen deur al sy span se punte aan te teken en die Engelse laat lyk het na ‘n span wat steeds ‘n buitekans het om die beker te wen.

Niekie sê: “George Ford het Saterdag ‘n meesterklas gelewer. Hy is in hierdie stadium beslis beter as Owen Farrel. Hy is ‘n koelkopgeneraal, hy struktureer die spel van Engeland.

“Ford het dit op hom geneem om Argentinië in hulle gebied vas te knoop. Hy het laerisiko-rugby gespeel, maar mens moet verlief daarmee neem dat jy nie riskant kan speel as jy in die eindstryd wil kom nie.

“Ford het bewys watse waarde het ‘n goeie losskakel met ‘n goeie skopvoet.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!