Ses CIA-ontleders op die Covid Discovery-span is “‘n beduidende geldelike aansporing gegee” om te rapporteer dat die 2019-uitbraak van die koronavirus nie by ‘n laboratorium ontstaan het nie, het twee komitees van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers gister gesê. Dìt volgens ‘n fluitjieblaser van binne die spioenasie-agentskap.
Die Gekose Subkomitee oor die Coronavirus-pandemie en die House Permanent Select Committee on Intelligence (HPSCI) het “nuwe en kommerwekkende fluitjieblaser-getuienis” ontvang oor die CIA se ondersoek na die oorsprong van die pandemie, van ‘n persoon wat beskryf word as “‘n multi-dekade, senior-vlak, huidige agentskapbeampte.”
Volgens die fluitjieblaser het ses van die sewe lede van die span geglo “die inligting en wetenskap was voldoende om ‘n lae selfvertroue-evaluering te maak” dat die virus by die Wuhan-instituut vir virologie ontstaan het. Slegs een het geglo die virus kom van ‘n dier, maar hy was die mees senior, volgens ‘n brief wat die twee komitees aan die CIA-direkteur William Burns gestuur het.
Die ses ontleders is geld aangebied om hul siening te verander sodat die agentskap by “die uiteindelike openbare siening van onsekerheid kan uitkom,” het die fluitjieblaser aan die komitee gesê.
Mike Turner, voorsitter van HPSCI, en voorsitter van die Coronavirus-subkomitee, Brad Wenstrup, albei Republikeine van Ohio, het dokumente van Burns aangevra oor die werk van die span. Hulle het ook die voormalige CIA-bedryfshoof, Andrew Makridis, gevra vir ‘n “vrywillige onderhoud” op 26 September.
Die Amerikaanse intelligensiegemeenskap het in Junie gesê dat sy veelvuldige agentskappe nie konsensus kon bereik oor waar die pandemie ontstaan het nie, met vier “elemente” wat glo dat dit “heelwaarskynlik veroorsaak is deur natuurlike blootstelling aan ‘n dier wat daarmee besmet is of ‘n nabye stamvadervirus.” terwyl slegs een gedink het dit is “‘n laboratorium-verwante voorval.” Die Kantoor van die Direkteur van Nasionale Intelligensie (ODNI) het gesê hy meen die virus “is egter nie as ‘n biologiese wapen ontwikkel nie.”
Die nuwe koronavirus, wat later SARS-CoV-2 gedoop is, is aan die einde van 2019 vir die eerste keer in Wuhan, China, opgespoor. Die presiese oorsprong daarvan en hoe dit mense geraak het, bly steeds onbekend. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het die siekte wat deur die virus Covid-19 veroorsaak word benoem en dit in Maart 2020 tot ‘n pandemie verklaar. Volgens die WGO was daar sedertdien meer as 770 miljoen gevalle van Covid-19 en meer as 6,9 miljoen sterftes as gevolg van die virus .
Beide die Chinese regering en die Amerikaanse gesondheidsowerhede, wat betrokke was by die befondsing van die navorsing by die Wuhan Institute of Virology, het die moontlikheid van ‘n laboratoriumlek kategories ontken. Enige vermelding daarvan is op die meeste sosialemediaplatforms as ‘waninligting’ verbied tot Mei 2021, toe daardie beleid skielik omgekeer is.