Na die eerste naweek van 2023 se Wêreldbekertoernooi is mens nie veel wyser nie.
Twee spanne het vasgeval teen spanne laer op die wêreldranglys, maar dit wys eintlik net hoe onbeduidend ranglyste in hierdie stadium is. Argentinië (6de) het verloor teen ‘n Engelse veertienmanspan, maar die Engelse (8ste) was voor die wedstryd die gunstelinge.
Fiji (7de) was die buiteperde teen Wallis (10de). Hulle moes daai kragmeting wen, maar kon net-net nie die knoop deurhaak nie.
Verder het sake min of meer verloop soos mens verwag het.
In Groep A het Frankryk in Parys met 27-13 op Stade de France kort mette van die All Blacks gemaak. Die Franse lyk formidabel, maar dit sal dwaas wees om die All Blacks af te skryf. By die vorige Wêreldbeker vier jaar gelede in Japan het ons ons openingswedstryd verloor, en kyk wat het gebeur…
Die Hane het natuurlik met hierdie verpletterende vertoning hulle aansien geen skade gedoen nie. Dit behoort vir baie mense genoeg te wees om die tuisspan die gunstelinge te maak om die beker te lig.
Vir die Franse was die agtsteman, Greg Alldritt, die skrumskakel Antoine Dupont en die linkervleuel-stelskopper Thomas Ramos uitstekend.
Die manne is swart het die agttal met die uitsondering van die veteraanslot Sam Whitelock nie beïndruk nie, maar die losskakel Richie Mo’unga en die vleuel Mark Telea het gewys dat daar nog hope vonk in die All Blacks is. As die pak vories op al hulle silinders begin vuur, gaan die All Blacks ‘n handvol wees.
Na die eerste rondte is Italië bo-aan groep A na hulle sege oor Namibië, maar dit lyk of Frankryk die groep kan wen met die All Blacks tweede. Frankryk is tweede, gevolg teen Uruguay (wat nog nie gespeel het nie), die All Blacks en ons bure Namibië.
In Groep B is Ierland bo danksy ‘n bonuspunt teen Romenië, gevolg deur ons, Tonga, Skotland en die Romeniërs.
Die Iere het maklik met hulle veel swakker Europese teenstanders afgereken, maar die ding wat die Springbokke kan nagmerries gee, is die briljantheid wat Johnny Sexton tentoongestel het. Verder kon mens nie veel lees in die wedstryd nie – die vaardigheidsverskil tussen die spanne was eenvoudig te groot.
Suid-Afrika het self hulle stem dikgemaak. Die makro-agttal lyk verwoestend, met veral Eben Etzebeth en die flank Pieter-Stef du Toit wat sterre van die toernooi kan wees, maar dit is die Bok-vleuels Kurt-Lee Arendse en Cheslin Kolbe wat die harte gesteel het. Canaan Moodie het nog nie gespeel nie, maar hy kan by die Wêreldbeker ‘n internasionale superstar word. Manie Libbock is ‘n vreemde geval – sy flair kan ons tot kampioenstatus voer, maar hy kan ewe maklik die mislukking van die toernooi word.
Die Waarheid voorspel die Bokke sal die groep wen, wat ons in die kwarteindstryd teen die All Blacks te staan sal bring.
Groep C is ‘n interessante enetjie. Fiji het hulle kanse om die kwarteind te haal dalk gisteraand geknou. Hulle moes teen Wallis gewen het…
Dit lyk nou of Wallis en die Aussies kan deurdring.
In Groep D, wat dalk die sagste van die vier groepe is, het die sukkelende Engelse skielik op al die silinders begin vuur en Argentinië met veertien man geklop. Die losskakel, George Ford, was man-alleen vir die Engelse oorwinnig verantwoordelik.
Ons behoort albei hierdie spanne in die kwarteind te sien, maar moenie verbaas wees as die verguisde Engelse die halfeindronde haal nie.
Te oordeel op wat ons tot nou toe gesien het, behoort die kwarteindrondes so te lyk:
14 Oktober: Marseilles: Australië teen Argentinië
14 Oktober: Parys: Suid-Afrika teen Nieu-Seeland
15 Oktober: Marseilles: Engeland teen Wallis
15 Oktober: Parys: Frankryk teen Ierland