Isaac Cloete
‘n Vroulike luitenant-kolonel was verlede week in die hof op aanklagtes van beweerde diefstal.
Sy is Nomvula Jacobs (49), oorspronklik van De Aar, maar werksaam by die polisiestasie op Springbok in die Noord-Kaap.
Volgens die Valke-woordvoerder Nonthandazo Mnisi was die misdaad gepleeg toe sy waargeneem het as die stasiebevelvoerder. Jacobs is Dinsdag gearresteer vir beweerde diefstal van R291 700 uit die stasie se kluis.
R102 200 was deel van geld wat die polisie gekonfiskeer het. Dis was veronderstel om in die kriminele invorderingsrekening (CARA) inbetaal te word nadat die hooggeregshof onlangs so ‘n bevel uitgereik het.
Die res van die gesteelde geld (R198 000) kom van sake wat nog uitstaande is. Die ondersoekspan van die Valke het die vermeende diefstal ontbloot nadat hulle verskeie kere probeer om by die geld in die kluis uit te kom, volgens Mnisi.
Omdat die sleutel van die kluis net skoonveld was, kon hulle eers op 30 Augustus die kluis oopkry. Hierna was ‘n klag van diefstal teen die waarnemende stasiebevelvoerder gemaak.
Verlede Woensdag het Jacobs vlugtig in die landdros op Springbok verskyn. Sy is tans uit op borgtog van R4000. Die saak was uitgestel tot 2 Oktober vir verdere ondersoeke.
‘n Aktivis, Lionel Bock, voel dat die gereg sy gang moet gaan en dat sy soos enige normale burger aangekla moet word.
Intussen vertel bronne na aan die ondersoek dat hulle (die Valke) ‘n baie sterk saak teen haar het. Dit het ook aan die lig gekom dat sy van die geld vir persoonlike uitgawes gebruik het en dit nie kon weerlê nie. Sy het waarskynlik die kluis se sleutel gedra as waarnemende stasiebevelvoerder.