Die Springbokke kan tevrede voel met hulle debuutwedstryd by vanjaar se Wêreldbekertoernooi na hulle sege van 18-3 oor Skotland gister in Marseille.
Maar daar was nie veel om oor te sing en dans nie.
Soos dit maar gaan met tipiese toetsrugby, was die wedstryd kliphard en onaanskoulik, maar die Bokke het verby die ongeroemde maar klipharde Skotte gekom met ‘n gerieflike oorwinning en sonder ernstige beserings.
Hulle het weliswaar nie vier keer kon druk vir ‘n bonuspunt nie, maar dit was waarskynlik nie voor die wedstryd die verwagting nie. Die oorwinning plaas hulle tweede op die punteleer in groep B, maar dit is nog vroeg in die toernooi. Hulle moet sekerlik in die stadium die gunstelinge wees om die groep te wen.
So lyk die punte wat Die Waarheid uit tien aan die spelers toeken in die begin-vyftiental vir Saterdag se vertoning:
15. Damian Willemse 7: Hy was bestendig in alles wat hy gedoen het; hy het mededingend gespring vir die balle wat hemel toe gelanseer is en baie op die aanval van agter af gebied. ‘n Afgeronde vertoning. Met gister se vertoning kan hy Willie le Roux uit die span hou.
14. Kurt-Lee Arendse 8: Hy het die spel uitstekend gelees op die verdediging, elke keer gevaarlik gelyk as hy die bal gekry het. Sy drie na ‘n dwarsskop deur Manie Libbock was ‘n pronkstuk en het duidelik gewys daar is steeds geen plaasvervanger vir spoed in rugby nie.
13. Jesse Kriel 7: Hy het ‘n stillerige wedstryd beleef, maar was ‘n generaal in die verdedigingslinie en het ‘n paar goeie duikslae uitgevoer. Hy was egter gelukkig om nie in die eerste helfte die trekpas te kry na ‘n koppestamp-duikslag op Jack Dempsey nie. Dit kon Suid-Afrika die wedstryd kos.
12. Damian de Allende 7: Soos altyd was die binnesenter ‘n sterk baldraer, hy het telkens oor die voordeellyn gekom en het uitstekend in die los skoongemaak, veral laat in die eerste helfte toe dit begin lyk het of die makro-voorspelers nie so vining by die afbreekpunte uitgekom het nie. ‘n Paar hanteerfoute het sy vertoning ontsier en hy kon plek-plek die bal beter versprei het na spelers in oop ruimtes. Maar soos ons al genoem het: hierdie is toetsrugby, nie sorgvrye studenterugby waar jy die bal na willekeur rondgooi nie.
11. Cheslin Kolbe 8: Seepglad, blitsvinnig en vol planne. Hy het min geleenthede gekry, maar het deurgaans werk gesoek.
10. Manie Libbok 7: Hy het te veel doelskoppe misgeskop. Plek-plek het hy tekens van briljantheid getoon, maar die span wat die meeste punte aanteken wen, nie die een wie se agterspelers die fênsieste lyk nie. En as jy misskop, kry jy nie daai punte nie. Hy het egter daai dwarsskoppie in die kassie gesit wat Arendse moontlik die drie van die toernooi laat druk het. Die Bok-breintrust gaan hard moet dink oor sy stelskopwerk.
9. Faf de Klerk 7: ‘n Redelike vertoning deur die skrumskakel; hy het goed genoeg uit die hand geskop en sy diens was vinnig. Dit lyk of hy ‘n tree of twee in vaart verloor het. Mens kon ‘n groot verskil sien toe Grant Williams hom laat in die wedstryd vervang het.
8. Jasper Wiese 6: Hy is bo Vermeulen gekies, en het ‘n paar groot dra- en duikslae gemaak. ’n Bevredigende vertoning, maar is hy beter as Vermeulen?
7. Pieter-Steph du Toit 8: Die 2019 wêreldspeler van die jaar is terug na sy beste. Hy was oral, in die los en lynstane, en hy het ‘n goeie drie gedruk. Kragtig! Die Waarheid se speler van die wedstryd.
6. Siya Kolisi 7: ‘n Redelik stil wedstryd na die indrukwekkende vertoning op Twickenham. Hy het by ‘n paar geleenthede die bal uitstekend gedra en sy duikslae puik uitgevoer. ‘n Uitstekende kaptein, maar na die ligte-debat, wonder mens hoeveel van die besluite op die veld hy self neem en hoeveel deur Rassie voorgeskryf word.
5. Franco Mostert 7: Hy is die beste op slot … soos hy ook op Twickenham gewys het. ‘n Besige wedstryd; sterk as verdediger en as baldraer. Gangbaar in die lynstaan. ‘n harde werker, maar makeer die vreesaanjaende teenwoordigheid van ‘n Etzebeth of Snyman.
4. Eben Etzebeth 5: Die groot man het net 25 minute gespeel voordat hy die veld met ‘n vermoedelike skouerbesering verlaat het. Lesers sal sien ek het nie my naam bo-aan hierdie artikel geskryf nie – mens gee nie vir Eben 5 en sit jou naam by nie, want Etzebeth bly vol vuur en is ‘n intimiderende figuur op die veld, wat goud werd is.
3. Frans Malherbe 6: Hy is normaalweg baie sterk in die skrums, maar hy het by ‘n paar geleenthede in hierdie wedstryd vasgeval. Hy het goed in algemene spel gelyk en ‘n paar groot aangeë en duikslae uitgevoer.
2. Malcolm Marx 7: Hy was sy gewone besige self, maar sy spel is onderbreek deur ‘n sny aan die kop. Sy lynstaangooi was goed, en hy het hard van die bal af gewerk, maar ook ‘n paar foute gemaak.
1. Steven Kitshoff 6: Soos Malherbe het hy tydens algemene spel goed gelyk, mooi gedra en hard gewerk, maar die veld ná 53 minute verlaat. Vreemd genoeg het hy by tye in die skrums nie oorheers nie.
Plaasvervangers: RG Snyman het vroeg vir Etzebeth vervang en die enforcer-rol goed vervul, terwyl Ox Nche, Trevor Nyakane en Bongi Mbonambi verskeie skrumstrafskoppe vir hul span in die tweede helfte gewen het. Van Staden en Vermeulen was redelik stil. Grant Williams het energie ingespuit en byna ‘n opspraakwekkende wegbreekdrie gedruk, terwyl Willie le Roux laat opgedraf en ‘n paar flaters begaan het.
Ek stem saam met die Rapport.
Lekker man