Skip to main content

Isaac Cloete

‘n Gemeenskapsman is die week op aanklagte van seksuele aanranding in die streekshof op Springbok tot vyf jaar direkte tronkstraf gevonnis.

Benjamin Stevens (63) van Nababeep het lank geveg om sy onskuld te probeer bewys.

Die voorval het sowat vier jaar gelede in dié dorp gebeur waar Stevens privaat wiskundeklasse vir leerders aangebied het. Op die betrokke dag het Steven glo die slagoffer (toe 11) gelukgewens nadat sy uiteindelik iets in Wiskunde onder die knie gekry het.

Hy het haar vermoedelik speels ‘n klappie op die ken gegee as ‘n blyk van waardering. Sy hand het egter gegly en dit het per ongeluk teen haar borste geraak, was sy verweer. Hy glo verder dat die leerder se biologiese ouers haar beïnvloed het om die saak so ver te dryf.

Aan die hof was vertel dat die slagoffer na die voorval heeltemal verander het. Sy was eers borrelend, maar is tans sku. Sy is onder andere bang vir die beskuldigde en het hom ten alle tye vermy.

Boonop is sy bang om tydens aande of donkerte uit te gaan. Die voorval het ook later haar skoolwerk nadelig begin beïnvloed, moes die hof van Leo se verslag verneem.

Nadat die hoofsaak vir vier jaar aangehou het, was Stevens uiteindelik in Augustus, 2023 skuldig bevind. Hierna was hy vir ‘n maand in aanhouding tot verlede Donderdag, toe hy gevonnis was.

Luidens ‘n verslag van die proefbeampte, Pierre Leo, het Stevens deurgaans voet by stuk gehou dat hy onskuldig is. Hy glo ook dat die slagoffer geen trauma ervaar het nie, derhalwe kon hy dus nie berou toon nie. Leo het gesê: “Stevens besef nie die effek wat die voorval op die slagoffer gelaat het nie.“

Ook was aan die hof vertel dat Stevens nie n pleitooreenkoms met die ouers van die slagoffer wou aangaan nie. Dit sou aan hom die opsie van ‘n gemeenskapsgebaseerde vonnis bied. Hy het egter geweier om dit te teken omdat hy onwrikbaar aan sy onskuld klou.

Tydens strafversagting was Stevens beskou as ‘n goeie en vriendelike mens wat respekvol is teenoor andere. Hy het met die jeug van Nababeep gewerk en was ook baie nou betrokke by die kerk en kerklike organisasies.

Hy mag teen sy vonnis appelleer.

Die aanklaer was Basil “The Jaquar” Kock. Stevens het gebruik gemaak van regshulp.

Leave a Reply

error: Content is protected !!