Busisiwe Mkhwebane, die geskorste openbare beskermer, is toegang geweier tot haar vorige kantoor toe sy Dinsdag ‘n poging aangewend het om terug te keer werk toe.
Die woordvoerder van die openbare beskermer, Ndili Msoki het gesê dat Mkhwebane se skorsing steeds geld totdat president Cyril Ramaphosa ander instruksies gee.
Mkhwebane het haar adjunk, Kholeka Gcaleka, die skuld gegee oor hoekom sy nie in die gebou toegelaat word nie.
“Die president het gesê ek is geskors met volle voordele, beskerming en alle toelaes, en alles.
“Nou kom sy en sê ek is nie ‘n werknemer nie. Inderdaad, ek is verantwoordbaar aan die parlement, maar hierdie instelling, ek is sy uitvoerende gesag.”
Sy is in 2017 daarvan beskuldig dat sy lede van oudpresident Jacob Zuma se kantoor asook lede van die Staatsveiligheidsagentskap ontmoet het voordat sy ‘n verslag oor vermiste staatsfondes openbaargemaak het.