Die Stad van Ekurhuleni is nou só dik vir diewe en vandale wat dorpe in dié gebied lamlê met kabeldiefstal by verkeersligte, dat alle planne om weer gesteelde kabels te vervang nou gestaak word en stopstrate by hierdie plekke opgerig word.
Die diewe is blatant. Hulle verwyder die kabels gedurende die nag, en ‘plant’ net doodeenvoudig weer die verkeersligpaal. Motoriste dink dan dis beurtkrag, maar dit is nie.
Nie net gaan Ekurhuleni se koffers geld spaar nie, maar kabeldiewe gaan elders ‘n heenkome vir ‘n paar rand moet soek. Volgens ‘n verslag is daar tussen Junie 2021 en Junie 2022 ongeveer R120 miljoen uitgegee om hierdie verkeersligte weer in ‘n werkende toestand te kry.
“Die stad het besluit dat in sommige voorvalle beskadigde verkeersligte vervang sal word met stoptekens as gevolg van beperkte fondse,” het dit gesê.
“Hoewel die installering van die stoptekens ’n tydelike maatreël is, kan sommige kruisings die stoptekens permanent daar hê.”