Sahlulele Luzipho, die voorsitter van die portefeuljekomitee oor minerale hulpbronne en energie, sê parlementslede wil wetgewing instel om óf die koop en verkoop van ‘tweedehandse goud’ te verbied, of strenger maatreëls omtrent die aksie in te stel. Dìt om enige onwettige mynbou hok te slaan.
Lede van dié komitee het onlangs plekke in Gauteng en Noordwes besoek waar hierdie ‘gevaarlike, onwettige mynboubedrywighede’ plaasvind.
Volgens hulle hou turfoorloë tussen onderskeie zama zama-bendes ‘n gevaar in vir die inwoners in sulke gebiede.
Luzipho sê die vermoede bestaan dat onwettig-gemynde goud met wettige ‘tweedehandse goud’ vermeng word.
“So, dit is hoekom ons dan sê kom ons beëindig die verkoop van tweedehandse goud en as ons dit doen, sal dit makliker wees om op te spoor waar goud vandaan kom. So, ek kan jou goud meng uit die Vrystaat waar hulle raffinering doen met die een wat hulle van Krugersdorp af kry en na daardie proses sou jy nie weet waar dit vandaan kom nie.”