Die werk wat jy doen mag dalk vir sommiges ongewoon wees, maar daar is poste wat werklik mense se monde laat oophang.
Hier is ‘n paar poste wat deur mense gevul word, maar wat dalk nie in almal se kraal sal pas nie…
In Finland is daar ‘n hotel wat iemand gehuur het as ‘n professionele slaper om die kwaliteit en gerief van hul beddens te toets. Hierdie persoon slaap elke nag in ‘n ander bed in die hotel, en skryf dan ‘n verslag oor die nagrus.
Glo dit of nie, maar daar is iemand in die Verenigde Koninkryk wie se werk dit is om dop te hou hoe verf droogword. Hy moet elke dag velle karton verf, kyk hoe lank dit neem vir die verf om heeltemal droog te word asook hoe die tekstuur en kleur verander terwyl dit droog word.
In Japan is daar ‘Oshiyas’ oftewel ‘treindrukkers’. Dit is hulle werk om soveel mense as wat moontlik is, tot in die trein te stoot sodat die deure kan toemaak. Dié wat dan die ritte meemaak, is soos sardiens gepak.
As jy hard en lekker kan huil wanneer dit jou pas, dan kan jy ‘n professionele roubeklaer word in Suidoos-Asië. Hulle glo dat die harde tranedal hul afgestorwenes sal help op hul reis na die hiernamaals.
Klink dit té vervelig? Nou wat van ‘n professionele slangmelker? Sulke mense melk giftige slange se gif in flesse sodat teëgif en ander medisyne daarmee gemaak kan word.
Hier is nou een werk wat nie sommer enigeen sal wil aanpak nie: Die proe van hondekos. Hierdie mense moet nie net die tekstuur en geur van hondekos beoordeel nie, maar moet ook hondebeskuitjies, bene en blikkieskos beoordeel teenoor handelsmerke van die opposisie.
Het jy ‘n neus soos ‘n windhond? Dan kan jy maklik ‘n reukbeoordelaar word. Sulke mense moet vrywilligers se oksels, voet en asems beruik wanneer sekere produkte getoets word. Hulle moet ook maandeliks hulle reuksintuig laat toets om seker te maak dat dit akkuraat werk.
Dan is daar boonop mense wat elke produksie Marmite moet proe om te kyk of die tekstuur en geur na smaak is.
Die mees ongewone werk is sekerlik die persoon wat pizzas aflewer aan ‘n onderwaterhotel in Florida. In ‘n waterbestande houer, natuurlik.
Het jý dalk ‘n ongewone werk? Vertel ons daarvan!