Skip to main content

Isaac Cloete

Drie hooggeplaaste departementele amptenare moes die week in die tronk oornag omdat hulle nie borgtog gekry het nie.

Hulle is dr Dion Theys (HOD), Daniel Mosimanigape (CFO) en Victor Nyokong (Adj Dir) wat almal werksaam is by die departement van gesondheid in die Noord-Kaap.

Die drie en ses ander staan tereg op aanklagtes wat verband hou met bedrog, korrupsie, geldwassery en die oortreding van die openbare finansiële bestuurswet(PFMA).

Volgens die staat het die departement byna R17 miljoen verloor weens Covid 19-misdade wat gepleeg was ten opsigte van die aanskaffing en die verkryging van persoonlike beskermingstoerusting (PPE’s) ‘n paar jaar gelede.

Theys was twee weke gelede skuldig bevind ook oor die oortreding van die openbare finansiële bestuurswet (PFMA). Hiervoor was hy gevonnis met ‘n boete van R150 000 of drie jaar tronkstraf. R100 000 hiervan of twee jaar tronkstraf was verder opgeskort vir ‘n periode van vyf jaar.

Noord-Kapenaars het toe hulle woede uitgespreek oor hierdie ligte vonnis. Hulle het vir Zaul blameer en beskuldig dat hy sy kamerade met misdaadrekords help beskerm en boonop in hoë poste aanstel.

Intussen het die ander ses beskuldigdes Woensdag borgtog gekry en was hulle saak verskuif na 16 Oktober. So lyk hulle borgtogbedrae:

  1. Montgomery Faas (R10 000)
  2. Siyabolela Booi (R10 000)
  3. Goitsemodimo Moseki (R5000)
  4. Elizabeth Manyetsa (R5000)
  5. Kenyaditswe Visser (R50 000)
  6. Kelebogile Bogatso (R10 000)

Intussen is die Noord-Kapenaars boos omdat die premier dr Zamani Saul toegelaat het dat Theys aangestel was as die hoof van gesondheid (HOD) in die Noord-Kaap, ten spyte van sy misdaadrekord en hangende sake. Thys het voorheen in dié pos waargeneem. Die gesondheisdienste in die provinsie het inmekaar geval en dit word by die dag al slegter, word verder gekla.

Tydens Theys se vorige hofsaak was hy geskors met betaling. Riaan Strydom wat in sy plek moes oorneem het baie goeie werk gedoen, volgens verskeie bronne binne die department. Ook het Strydom dinge in plek gekry om die departement reg te ruk.

Die verwagting was dus dat hy die pos as HOD sou kry. Toe Theys egter terugkeer na sy werk na die hofsaak, was hy onmiddellik aangestel as die HOD.

Intussen wil Lionel Bock, ‘n aktivis van Steinkopf, weet wie Theys se regskoste gaan betaal in die huidige saak waarby hy betrokke is.

*  Theys, Mosimanigape en Nyokong is steeds in die tronk en sal na verwagting Maandag weer in die hof verskyn vir formele borgtogaansoek. Volgens die woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, Mojalefa Senokoatsane staan hulle borgtog teen.

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!