Ondanks die liederlike loesing wat die Springbokke die All Blacks Vrydagaand op Twickenham toegedien het, glo die beroepswedders steeds die Nieu-Seelanders het ‘n beter kans as Suid-Afrika om die Wêreldbeker te wen.
Nieu-Seeland en die Franse is die gunstelinge. Die wedders bied wedsyfers van 4/1 op die Kiwi’s en die Hane aan, met die Bokke ‘n kortkop agter hulle op 4.5/1.
Ierland, wat onlangs nog as ‘n gunsteling beskou is, se kanse word op 6/1 geraam, gevolg deur die Aussies op 13/1.
Die boekies glo Engeland (15/1) het nie veel van ‘n kans om hond haaraf te maak nie.
Die beroepswedders is so seker van hulle saak dat ons buurland, Namibië, nie ‘n kat se kans het om die Webb Ellis-beker huis toe te bring nie dat hulle jou R1 501 sal uitbetaal vir elke rand wat jy op hulle verwed het as die Namibiërs die wêreldkampioene word.