Amy Biehl word in Kaapstad vermoor
In 1993 is ‘n Amerikaanse Fulbright-nagraadse student, Amy Elizabeth Biehl (wat 26 jaar oud was), deur ‘n 100-sterk groep jeugdiges in Gugulethu, net buite Kaapstad, uit haar motor gesleep en doodgesteek.
Biehl het drie medewerkers na hul huise in die informele nedersetting geneem, toe jong mans haar motor met klippe begin gooi het. Hulle het uiteindelik die voertuig omsingel en die Pan African Congress (PAC) militante slagspreuk “One settler, one bullet!” geskreeu.
Amy is uit die motor geruk en toe sy probeer weghardloop het, is sy met ‘n baksteen oor die kop geslaan. Amy is aanhoudend geslaan en daarna doodgesteek.
Haar swart kollegas het tevergeefs probeer om die aanval te keer deur te skree dat sy ‘n kameraad is, maar dit was te laat. Sy is op die plek dood verklaar.
Biehl se dood het presies ‘n maand ná die St. James-kerkslagting plaasgevind, waar die Azanian People’s Liberation Army (APLA), die gewapende vleuel van die PAC, die gemeente tydens ‘n Sondagaanddiens aangeval het. Die president van die African National Congress (ANC), Nelson Mandela, het gesê; “Sy (Biel) het ons aspirasies haar eie gemaak en haar lewe verloor in die onstuimigheid van ons oorgang terwyl die nuwe Suid-Afrika gesukkel het om in die doodsoomblikke van apartheid gebore te word. Deur haar het ons mense ook die pyn gedeel om ’n verskriklike verlede te konfronteer terwyl ons die pad van versoening en genesing van ons nasie neem.”
Bron: SAHO