‘n Intelligensie-gedrewe operasie wat deur die Misdaadintelligensietaakspan in die Ehlanzeni-streek uitgevoer is, het gister gelei tot die arrestasie van ‘n 35-jarige kroegman by een van die plaaslike kroeë in Shatale, Bosbokrand.
Die Taakspan en Lydenburg K9-eenheid het inligting opgevolg met betrekking tot die kroegman wat in besit was van vuurwapens wat verhuur word aan misdadigers wat betrokke was by ‘n aantal vulstasies en besigheidsrooftogte asook verskeie bomaanvalle op kluise.
Daar is ook bewerings dat die verdagte soms ook aan hierdie kriminele aktiwiteite deelneem.
Een van die drie vuurwapens het aan die oorlede eienaar van die kroeg behoort wat ‘n ruk gelede in Bosbokrand as gesteel aangemeld is.
Die ander vuurwapen toon geen rekords van eienaarskap nie. Die moontlikheid is groot dat dit in die land ingesmokkel is en die derde vuurwapen se reeksnommer is uitgevee.
Benewens die vuurwapens wat gevind is, is ‘n plastieksak met dagga ook gevind.
Die verdagte sal na verwagting vandag in die Bosbokrand-landdroshof verskyn.