Skip to main content

George April

“My en my gesin se huis is oor die jare deur inbrekers omskep in ‘n murasie, en my pleidooi by Hopefield polisie het elke keer op dowe ore geval omdat die bewyse nooit goed genoeg was vir hulle nie.

“Daarom het ek ‘n maand gelede besluit om my eiendom in die mark te plaas om te verkoop,” het Angie O’Donnell vertel.

“Gisteraand was die polisie egter  blitsig op die toneel, nadat ‘n landlord hulle gekontak het omdat hulle ‘n geluid in my huis gehoor het. ‘n Man is daarna binne in die dak, agter die plafon aangetref en in hegtenis geneem.

“Soos u kan sien, hier is eintlik niks oor waarvoor ek langer hier aan moet bly en op te bou nie.”

Die Waarheid het die afgelope maande gereeld berig oor die inbrake op Hopefield, en die stadige reaksie van die polisie.

Inbrekers het al so mak geraak, hulle het sommer helder oordag ingebreek, het die huisvrou voortgegaan. “Alhoewel bewyse van foto’s of video’s van inbrekers daar was, was dit nooit genoeg bewyse vir die polisie nie.”

Volgens O’Donnoll was ‘n inbreker in Februarie aangekeer en opgesluit vir ‘n inbraak by haar woning.

“Hy is egter vrygelaat en het voortgegaan en saam met maatjies gereeld ingebreek by my huis. Ek het dit onder die aandag van die ondersoekbeampte gebring. Hy het net gesê daar is nie genoeg bewyse nie. Kyk hoe lyk my huis: onwoonbaar, geen waterkraan, toilet of enige elektriese element werk in die huis nie, want alles is gesteel.”

Jaco, Angie se man, stem saam, maar voeg by: “Die probleem is nie die polisie in uniform nie, maar die ondersoekbeamptes.

“Met soveel bewyse wat ons gereeld uitgehaal het, moes mense al lankal toegesluit gewees het.”

Drie weke gelede het Malcolm May, ‘n ander inwoner van Hopefield, se woonstel twee keer oor een naweek onder inbrekers deurgeloop.  May het na die inbrake ook sy misnoëe met die diens van Hopefield polisie uitgespreek.

“Ek moes verskeie kere na die polisiestasie gaan, voordat daar opgetree was. Een van die inbrekers het selfs my skootrekenaar aan my broer probeer verkoop, maar nooit was dit genoeg om iemand eers te ondervra nie.”

Kelly Baloyi, mediaskakelbeampte die van LUR Reagen Allen, Minister van Polisie en Gemeenskapveiligheid, het erken dat die departement ingelig is van probleme van polisiedienslewering op Hopefield.
‘n Gemeenskapsvergadering saam met minister Allen en ander polisiebeamptes is voorlopig gereël vir 22 September op Hopefield.

Leave a Reply

error: Content is protected !!