Skip to main content

‘n Voertuig wat op ‘n druppel water lyk soos die van die omstrede voorlopige likwidateur Vaughn Victor jaag met skreeunede bande en sonder ‘n agterste nommerplaat weg van die 418-ondervraging in die Tariomix-likwidasie.

Die diamantmynbaas en -handelaar Louis Liebenberg het gister tydens die 418-ondervraging in die likwidasieproses van sy maatskappy Tariomix versoek dat die kommissaris, oudregter Eberhard Betelsmann, hom aan die ondervraging onttrek.

Volgens hom is Bertelsmann nie objektief nie en die voorgeskrewe werkswyse, waar drie kommisarisse gebruik moet word, word nie gevolg nie. Tot dusver het die meeste van die ondervraging slegs voor Bertelsmann plaasgevind.

“ ‘n 418-ondervraging is veronderstel om ‘n objektiewe ondervraging te wees. Dit is ook veronderstel om privaat te wees – dit kan nie in die publiek geventileer word nie,” het Liebenberg na die verrigtinge gesê.
“Die eerste punt op die agenda was dat SARS gedabatteer het dat die kommisaris moet onttrek. Ek het gesê die likwidateurs is korrup. Ek het breedvoerig gepraat oor die rol van die likwidateurs in die opjaag van die temperatuur. Ek het die belangrike punt gemaak dat daar nie ‘n likwidasie behoort te wees nie omdat die aansoekers onttrek het.”

Liebenberg het spesifiek gepraat oor die omstrede Vaughn Victor, die prominentste van drie voorlopige likwidateurs wat deur die hooggeregshof aangestel is. Victor is onlangs gekoppel aan ‘n skokvideo waarin ‘n bejaarde Vrystaatse vrou mishandel word. Niemand is nog in verband met die aanranding in hegtenis geneem nie.

Victor word uit verskeie oorde gekoppel aan vertroulike inligting van Liebenberg en mense in die Liebenberg-kamp wat op vyandiggesinde Facebook-groepe en in die media gelek word.

Volgens die diamantmagnaat het hy oudregter Bertelsmann reeds twee keer ingelig oor Victor se werkswyse. “Hy weet lankal van Victor se werkswyse. Die advokaat vir die likwidateurs weet dat hulle ‘n korrupte kantoor is wat toegemaak behoort te word. Ek is verbaas dat daar nog nie opgetree is deur die owerhede nie en die prokureur nog nie geskrap is van die rol nie.”

Liebenberg het gesê Victor het in die ondervraging links van hom gesit. “Ek het net begin praat, toe het Victor himself verskoon.”

Victor se kapoenkleurige Toyota Land Cruiser het kort daarna met skreeuende bande by die perseel van Strydom Rabie Ingelyf, waar die verrigtinge plaasgevind het, uitgejaag en vinnig in ‘n westelike rigting verdwyn.

“Ek het gevra dat die likwidateurs verwyder word, maar dit is ‘n hofproses. Ek gaan senior advokate kry om hulle te verwyder en dit moet voor die 14de September gebeur,” het Liebenberg gesê. “Ons sal al die staatsmasjienerie intrek om die korrupsie wat teen ons gepleeg word te ontbloot.”

Die ondervragings is gister sine die (sonder ‘n voortsettingsdatum) uitgestel.

Die voormalige ambassadeur in Nederland en deesdae leier van die nuwe politieke party Areta, Carl Niehaus, was ook teenwoordig om sy vriend Liebenberg te ondersteun, maar soos alle ondersteuners van Liebenberg is hy nie op die perseel toegelaat nie.

“Laat ek duidelik vir Jana (Van der Merwe, ‘n joernalis van Media-24) sê: Julle het julle monde gewas oor my vir die laaste 40 jaar. As iemand by my staan, staan ek by hom as ‘n vriend.

“Ek hoop nou op geregtigheid, dat die regter hom sal onttrek. Iemand wat ‘n goeie regter is, sal nie toelaat dat hy op hierdie wyse misbruik word nie. Louis, jy verdien nie die manier waarop jy verguis word om geen ander rede dat jy omgee vir ander nie,” het Niehaus gesê.

Belangstellendes is by Strydom Rabe Ingelyf se voorhek weggewys, maar dit was opsigtelik dat Media24 se joernaliste wel ingelaat is. Die mediagroep het die afgelope tien maande meer as 230 negatiewe artikels oor Liebenberg geskryf en word daarvan verdink dat hulle om dieselfde vuur as Victor-hulle sit.

• Liebenberg het ook gesê dat daar vandeesweek nog van die banksisteem na die blockchainsisteem oorgeskakel sal word sodat die maatskappy se sake minder aan kritiese blikke onderwerp word.

Leave a Reply

error: Content is protected !!