Skip to main content

Isaac Cloete 

Hulle het net opgestaan vir hulle regte en minerale op hulle geboortegrond.

Toe word hulle geweldadig deur die staat se masjinerie en sekuriteit se vlae pepersprei in hulle spore gestuit.

Behalwe dit het die polisie van Nababeep, naby Springbok, Woensdagaand 28 persone van Concordia aangekeer vir onder andere openbare geweld, volgens polisie-woordvoerder, brig Mashay Gamieldien.

Die arrestasies spruit voort uit geweldadige konfrontasies met die sekuriteit van die Copper 360 mynmaatskappy by die Jubilee-myn.

Die maatskappy is besig met onwettige mynboubedrywighede op die geboortegrond van die plaaslike inwoners, volgens Ilanushca van den Heever, leier van die VVVT-aktivistegroep. Sy was ook later dié Woensdagaand gearresteer.

Sy voer aan dat dié kopermaatskappy nie die gemeenskap se toestemming het om hier te myn nie. Sy het gesê: “Copper 360 se eienaar of bestuurderspan moet met ons kom onderhandel, sodat ons ons voorwaardes kan stel, want huidiglik kry ons nie ‘n sent terug van die  maatskappy nie.”

Woensdagoggend het die inwoners die hek by die Jubilee-myn gaan sluit, sodat voertuie van die maatskappy nie kon in- of uitbeweeg nie. ‘n Trok met koperklippe van ongeveer R80 000 was verhoed om sy vrag na die myn se aanleg in Nababeep te vervoer.

Die hulp van die openbare orde polisie-eenheid op Springbok moes Woensdagnamiddag ingeroep word. Met behulp van kasspirs, traangas, skokhandgranate en pepersprei kon hulle die skare beheer, sodat die hek by die Jubilee-myn weer oopgemaak kon word.

Die laaste skok op die Vrouedag het gekom toe die 28 inwoners, onder wie senior burgers, Woensdag teen laatnag gearresteer was. Volgens inwoners het tientalle polisievoertuie toe die dorp se strate vol gery soos hulle na die verdagtes gesoek en opgelaai het.

Hulle kom na verwagting vandag in die hof op Springbok voor ná twee dae in die selle. Volgens Gamieldien staar hulle klagtes van onder andere openbare geweld in die gesig.

“Tydens die skermutselings was ‘n trok van die maatskappy beskadig en sy drywer asook twee polisiebeamptes in die próses beseer. Die polisie handhaaf tans ‘n groot mate van sigbaarheid by die myn-area”

Dit het intussen aan die lig gekom dat die grond wel aan die gemeemskapseienaarsvereniging (CPA) van Concordia behoort. Dit is egter nie duidelik hoe Copper 360 die mynregte hier bekom het nie.

Quinton Adams, woordvoerder van Copper 360, het gesê dat hulle ‘n deeglike ondersoek oor die voorval sal doen.

* Jan Nelson, eienaar van Copper 360, het onlangs in onderhoud, op ‘n nasionale radiostasie en in die media bekend gemaak dat die eerste mynskool van sy soort op Concordia begin sal word. Dit het nog nie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!