Skip to main content

Môre hoor ons wie vir die Springbokke in die Wêreldbekertoernooi gaan speel en wie die wedstryde tuis op die kassie gaan moet kyk. Dirk Lotriet het met Derick Hougaard en Niekie van den Berg Wêreldbeker gesels. Die keurders moet dalk eers hier lees voordat hulle hul 33 name neerpen.

Die voormalige Springbok-losskakel en puntemasjien Derick Hougaard is deeglik bewus van die moeilike taak wat die Springbok-keurders het voordat hulle die Bok-groep vir die wêreldbekertoernooi kies wat oor presies ‘n maand in Frankryk afskop.

Hougaard het twintig jaar gelede sy debuut as bloedjong snuiter van 20 in die 2003-wêreldbeker in Australië gemaak.

“Twintig jaar! Kan jy dit glo?” sê Hougaard. “Wat die WB anders as enige ander rugby maak, is die druk. Dit is soveel meer. Jy wil goed doen, jy wil daai beker huis toe bring vir die hele land. Soos Nelson Mandela gesê het, sport het die manier om mense te verenig,” sê hy.

Derick glo die Bokke het ‘n goeie kans om die eerste span te word wat die beker suksesvol kan verdedig, maar “daar is vanjaar vyf spanne wat die beker kan wen – dit was lank laas so oop.”

Die Waarheid se vraag aan Derick was: Gestel ruimtemannetjies raap al wat ‘n keurder is oornag weg en SA Rugby vra om die groep van 33 te kies wat die Webb Ellis-beker in Hane-land moet gaan verdedig, hoe sal jou groep lyk? Wat is die haakplekke, waaroor is jy bekommerd? Wie is die spelers wat jy dadelik sal kies?

Hougaard het besliste idees oor die ouens wat hy graag daar wil sien.

“Die vaste voorspelers is seker min of meer gekies. Ek wil beslis vir RG Snyman daar sien. Hy is ‘n ongelooflike impakspeler.

“Wat my bekommer, is nommers 9, 10, 12 en 13. Ek hoop Handre Pollard is reg. Ek is nie oortuig Manie Libbok het nou al die hart om onder groot druk die regte besluite te neem nie. Ek sou vir Damien Willemse sonder twyfel op losskakel gekies het, maar ek is nie gemaklik met sy stelskopwerk nie – mens kan nie by ‘n Wêreldbeker met ‘n laer as 80% trefpersentasie skop nie,” sê hy.

“Dis jammer ons kon nie meer van Grant Williams sien nie. Maar die ouens wat die spel ken, is baie opgewonde oor hom.”

Hy sê die verdediging op buitesenter gaan deurslaggewend wees. “Buitesenter is verdedigingsgewys die moeilikste posisie op die veld. Jy moet ‘n spesialis daar speel.”

Die veteraan-radioman Niekie van den Berg, wat die Wêreldbekers in 1995, ’99 en 2007 gedek het, het nog nooit ‘n WB-wedstryd misgeloop nie, “en ek het nie die begeerte om dit nou te doen nie”.

Niekie sê hy was telergesteld na die Springbokke se eerste wedstryd teen die Argentyne, en toe hy hoor die breier, Jacques Nienaber, het dertien veranderinge aan die span aangebring vir die kragmeting in Buenos Aires, was hy bekommerd.

“Maar ek was beïndruk. Hulle was meer klinies. Ouens soos Jean Kleyn het soos ‘n reus gespeel. Hy is ‘n regte enforcer – ek hoop hulle kry ‘n plek vir hom in die 33-tal.”

“Mens het nie eers werklik vir Eben gemis nie.”

Cobus Reinach het hom ook baie beïndruk. “Hy het vinnig skoongemaak agter losskrums en het uitstekend verdedig. Hy is nie altyd in die keurders se goeie boekies nie, maar ek sal hom in die span wil sien.”

Hy besef skrumskakel gaan vir die keurders ‘n kopseer wees wat nie sommer met ‘n Grand-Pa reggedokter kan word nie. “Daar is moeilike keuses. Faf is in die stadium weglaatbaar. Ek sou graag meer wou sien van Grant Williams; ek weet nie of hy reg gaan wees nie.”

Hy is ook bekommerd oor wie die nommer 10-trui gaan dra. “Losskakels is ‘n krisis. Handre Pollard gaan nie beskikbaar wees vir die opwarmingswedstryde nie. Ek is besorg dat hy nie wedstrydskerp sal wees nie. Manie Libbock se stelskopwerk was Saterdag nie op peil nie. Ouens by die Wêreldbeker gee nie baie strafskoppe weg nie. Daar is ongelooflike stelskoppers in wêreldrugby. Dis nie ‘n posisie waar jy sommer iemand kan opstuur en sê speel losskakel nie. Dis ‘n absolute spesialisposisie.”

Hy merk ook op dat Lukanyo Amm ‘n skaduwee is van die speler wat hy voor sy besering was. “Hy het nie die skerpheid wat hy gehad het nie. Ek hoop hulle kies vir André Esterhuizen.”

Oor die algemeen is hy besorg oor die Bokke se wedstrydbenadering. “Ek dink nie ons bomsquad is meer so effektief nie. Ons skrumdominansie is nie meer daar nie. Ons rolmaakbewegings is uitgeskakel. Ons moet klinies wees in die vaste fasette. Ek sal wil sien dat ons meer meeding op die opponent se bal voor in die lynstaan,” sê hy.

Niekie dink ook Makazole Mapimpi is ‘n moet. “Hy is ervare en het nog geen spoed verloor nie. Maar Kolbe en Arendse en Moody is opwindend. Dit gaan ‘n mirakel wees om die vleuels te kies.”

Hy glo die Springbokke kan die beker weer huis toe bring, maar daar is sterk mededinging.

“Daar is nie iets soos ‘n maklike Wêreldbekerwedstryd nie. Die Franse kan verras. Ierland en Skotland lyk sterk. Ek sien Fiji het nou ‘n streep wedstryde op ‘n ry gewen.

Die Argentyne onder Michael Cheka is besig om ‘n sterk span te bou, maar hulle probleem is hulle het nie diepte nie.

Maar die span om te klop bly maar die All Blacks. Ek spot altyd dat hulle hulle beste rugby tussen Wêreldbekers speel, maar hulle het te veel in daai slaggat getrap om te dink hulle daag net op om te wen. Hulle het daai hekkie oorkom. Dit sal tog maar die span wees om te stuit.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!