Skip to main content

Die polisie in Musina het ‘n intensiewe soektog van stapel gestuur in reaksie op ‘n onlangse inbraak by ‘n plaaslike laerskool. Die voorval het na bewering in die vroeë oggendure van Maandag, 31 Julie 2023 omstreeks 03:22 plaasgevind.

Die polisie ondersoek alle leidrade om die betrokke verdagtes vas te trek.

Volgens voorlopige ondersoeke het drie mans gewapen met vuurwapens die sekuriteitsbeampte aan diens oorval en hom met ‘n draad en skoenveters vasgebind.

Die oortreders het toegang tot die kantoor verkry deur die deur te breek en het dit geplunder op soek na waardevolle items. Hulle het twee kluise gesteel waaronder een wat teen die muur gemonteer was. Die twee kluise is later op die skoolwerf gevind nadat die verdagtes nie daarin kon slaag om dit oop te maak nie.

Die geraamde waarde van die skade is ongeveer R15 000.

“Die veiligheid en sekuriteit van ons gemeenskap se opvoedkundige instellings is van uiterste belang vir die SAPD en ons werk ywerig om diegene wat verantwoordelik is vir hierdie brutale daad te identifiseer en vas te trek. Ons toegewyde span speurders volg aktief leidrade op en versamel al die bewyse, ” het provinsiale kommissaris van Limpopo luitenant-generaal Thembi Hadebe gesê.

“Ons doen ‘n beroep op enigiemand met inligting wat verband hou met hierdie voorval om na vore te kom en ons in ons ondersoek by te staan. Geen detail is te onbeduidend nie, en selfs die kleinste stukkie inligting kan deurslaggewend wees om die verdagtes te identifiseer en vas te trek. Ons verseker die publiek dat alle inligting wat verskaf word met die grootste vertroulikheid hanteer sal word.

“Hulle kan die Polisie by Stop Misdaad nommer 08600 10111 of die naaste Polisiestasie kontak of My SAPD Toep gebruik.

Die polisie-ondersoek duur voort.

Leave a Reply

error: Content is protected !!