Isaac Cloete
Binnekort gaan die eerste mynskool vir die Noord-Kaap in Namakwaland sy deure open.
Dit is die inisiatief van die maatskappy Copper 360 wat die afgelope paar jaar in die Nama Khoi-munisipale area bedrywig is. Hulle herwin tans koper in die Nababeep- en Concordia-gebiede.
Hulle gaan ook die unieke skool befonds, volgens Jan Nelson, die hoof uitvoerende beampte van die maatskappy. Die skool sal geskoei wees op die Camborne mynskool in England.
Nelson het onlangs gesê dat die doel van die skool is om werkloosheid onder die jeug te kamp. Die ontwikkeling van vaardighede sal dus hoog op die prioriteitslys wees. Daar moet egter in gedagte gehou word dat die skool nie myningenieurs gaan oplei nie. Of geakkrediteer sal wees om byvoorbeeld grade of diplomas uit te reik nie.
“Die persone met matriek, maar sonder ‘n diploma, is diegene wat ons opleiding wil gee.
“Hier sal vaardigheidsontwikkeling en kennisoordrag binne 4/5 maande kan plaasvind. En daarna kan hulle eerder ambagsgerigte sertifikate ontvang.”
Aanvanklik sal die plaaslike inwoners eerste kans kry om by die skool in te skryf. Ongeveer 40-50 persone sal binne die volgende vier weke opgelei word, het Nelson bygevoeg. En daarna sal dit uitbrei.
Tans is Nababeep, waar ‘n groot proseseringsfasiliteit is, die hoofsentrum van Copper 360 se aktiwiteite. Hier is hulle hoofkantore waar mynbedrywighede en beplanning gekoordineer en uitgevoer word. Nababeep is n voormalige kopermyndorp van die Okiep Kopermaatskappy. (OCC)
Volgens die uitslae van eksplorasie-werke besit Namakwaland oor tonne koperneerslae. Behalwe dit is dit ook ryk aan byvoorbeeld mangaan, ystererts, lithium en kobalt. Die potensiaal van groot herniebare energie-bronne maak die omgewing geskik vir enorme ontwikkelingsgeleenthede.
Na die voltooiing van die reuse Boegoebaai-hawe projek sal Namakwaland SA se volgende hoof ekonomiese sentrum wees, volgens kenners. Derhalwe is die opleiding en ontwikkeling van duisende mense, veral die plaaslike bevolking van kardinale belang, volgens Nelson.
Intussen is inwoners van veral Concordia in hul noppies met die nuutste verwikkelinge. Net soos ander dorpe in die area sit hulle ook met groot armoede weens werkloosheid.
Nuwe mynbou-aktiwiteite en opleidingsmoontlikhede is net die regte inspuiting wat die moedelose em vuisvoos inwoners nou nodig het, het hulle opgewonde vertel.
Dankie vir insiggewende waar nuus